Skeppers van ‘Boy van die Suburbs’ en ‘Die Gang’ vereer in liedjietuin

Anton Goosen, legendariese “Liedjieboer”.
Anton Goosen, legendariese “Liedjieboer”, is in die FAK-Liedjietuin vereer vir sy besonderse bydrae tot die Afrikaanse liedkuns. FOTO: Niël Langner

Skeppers van ‘Boy van die Suburbs’ en ‘Die Gang’ vereer in liedjietuin

Anton Goosen, legendariese “Liedjieboer”.
Anton Goosen, legendariese “Liedjieboer”, is in die FAK-Liedjietuin vereer vir sy besonderse bydrae tot die Afrikaanse liedkuns. FOTO: Niël Langner

PRETORIA – Twee uitsonderlike legendes in die Afrikaanse musiekwêreld – Anton Goosen en Christopher Torr – is verlede week deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vereer.

Die geleentheid op Vrydag 28 Augustus in die FAK-Liedjietuin by die Voortrekkermonument in Pretoria het hulde aan dié twee kunstenaars se blywende bydrae tot die Afrikaanse liedkuns gebring, en ook aan die diepgaande invloed wat hul woorde en melodieë oor dekades heen op die Afrikaanse kultuurlandskap uitgeoefen het.

Carike Keuzenkamp, Christopher Torr, Laurika Rauch, Anton Goosen en Rina Hugo. (Foto: Niël Langner)
Carike Keuzenkamp, Christopher Torr, Laurika Rauch, Anton Goosen en Rina Hugo vier die historiese geleentheid saam. FOTO: Niël Langner

Anton Goosen se Liedjieboer-erfenis

Anton Goosen, bekend as die “Liedjieboer”, het reeds twee liedjieborde in die tuin vir sy “Blommetjie gedenk aan my” en “Ken jy Tant Mossie”.

Vrydag is nog vier liedjieborde onthul, terwyl sy bestaande borde herposisioneer is om ’n toegewyde Anton Goosen-hoek in die tuin te vorm. Die nuwe borde bevat die lirieke van “Jantjie”, “Silver de Lange”, “Boy van die Suburbs” en “’n Brief vir Simone”.

Die uitbreiding verleen verdere erkenning aan Goosen se buitengewone bydrae as een van die belangrikste vernuwers van Afrikaanse populêre musiek.

Vir bykans ses dekades het Goosen se liedjies die klankbaan van duisende Suid-Afrikaners se lewe gevorm, sê die FAK in ‘n verklaring. Sy vermoë om die gewone mens se ervarings, herinnerings en emosies in toeganklike, poëtiese lirieke vas te vang, het hom ’n unieke plek in die Afrikaanse kultuurlandskap besorg.

“Dit was werklik ‘n heuglike dag. Ek voel geweldig geëerd, want ek het met die FAK-Sangbundel grootgeword. Om te dink daar is 19 van my liedjies in hierdie boek, is reeds ‘n groot eer. Om met borde in die FAK-Liedjietuin vereer te word, is die kersie op die koek. Ek en die FAK loop ‘n lang pad en hoewel ons in die Woodstock-dae koppe gestamp het, kyk waar is ons nou. Ons werk saam aan die Afrikaanse taal en kultuur wat bewaar moet word vir die kinders wat nog gebore moet word,” sê Goosen.

Dr. Danie Langner, Christopher Torr en Laurika Rauch.
Dr. Danie Langner, Christopher Torr en Laurika Rauch in die nuwe Christopher Torr-hoek met die liedjieborde wat onder meer die lirieke van “Stille Waters” en “Die Gang” langs sy reeds bestaande bord vir “Stuur groete aan Mannetjies Roux” bevat. FOTO: Niël Langner

Christopher Torr se musikale nalatenskap

Christopher Torr, wat reeds met “Stuur groete aan Mannetjies Roux” in die FAK-Liedjietuin vereer is, het op sy beurt twee bykomende liedjieborde ontvang. Die lirieke van “Stille Waters” en “Die Gang” is daarop aangebring.

Sy bestaande en nuwe borde is saam geplaas om ’n Christopher Torr-hoek in die tuin te vorm.

Hoewel Torr internasionale aansien as akademikus en ekonoom geniet het, is dit ook sy nalatenskap as liedjieskrywer wat hom ’n besonderse plek in die harte van Afrikaanse musiekliefhebbers gegee het. Sy liedjies het oor dekades heen deel van die Afrikaanse kultuurerfenis geword.

Dat Afrikaans nie Torr se moedertaal is nie, maak sy bydrae soveel te meer merkwaardig. Sy liedjies het geslagte Afrikaanse luisteraars aangegryp en geïnspireer.

Christopher Torr aan die woord.
Christopher Torr aan die woord tydens die eerbewysfunksie in die FAK-Liedjietuin, waar sy liedjies vir toekomstige geslagte bewaar word. FOTO: Niël Langner

Musiek en huldeblyke sentraal tot die geleentheid

Musiek het ’n sentrale rol tydens die geleentheid gespeel, met uitvoerings van onder meer “Die Gang”, “Stille Waters”, “Silver de Lange” en “’n Brief vir Simone”.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het die commendatio’s voorgehou en spesiale FAK-eerbewyse aan Torr en Goosen oorhandig.

Volgens Langner verteenwoordig die twee kunstenaars verskillende, maar ewe belangrike strome binne die Afrikaanse liedtradisie.

“Christopher Torr en Anton Goosen het elkeen op ’n unieke wyse gehelp om die Afrikaanse lied te vorm en te verryk. Hul liedjies het lankal die grense van individuele kunstenaarskap oorskry en deel geword van ’n veel groter gemeenskap se gedeelde geheue.”

Langner sê die FAK-Liedjietuin gaan oor die stories, herinnerings en emosies wat deur liedjies oorgedra word. Die FAK-Liedjietuin is geskep om liedjies en liedjieskrywers te vereer wat deel van die Afrikaner se gedeelde kultuurerfenis geword het. Die lirieke van geliefde liedjies word op granietborde aangebring, sodat die verhale, herinnerings en emosies wat deur die liedjies vasgevang word, vir toekomstige geslagte bewaar kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article