ToyRaiders van Upington Toyota is die wenspan in vanjaar se rolstoel-rugbytoernooi wat by die Kalahari Mall in Upington plaasgevind het.
Dit is vanjaar ‘n vierde keer deur die Vereniging van en vir Persone met Gestremdhede (APD) Benede-Oranje aangebied.

Elmarie Hoft, gebiedsdirekteur van APD Benede-Oranje, sê dit word as ‘n geldinsamelingsprojek aangebied terwyl dit bewusmaking skep dat mense in rolstoele ook aan sport kan deelneem.
Eregaste van dié geleentheid op 28 Junie was die Mustang-rolstoelrugbyspan van Bloemfontein, wat in ‘n demonstrasie-wedstryd die reëls van die spel verduidelik het. Daarna het spanne van ondernemings en organisasies mekaar die stryd aangesê. APD-spanne het ook deelgeneem. All Security 2 was in die tweede plek, en APD Buffels derde.
Die res van die spanne, asook die volgorde waarin hulle geëindig het, is Louise de Jonge Fisioterapeute, Upington Elektries, Plastic Packaging 1, Marais Orthotists, Plastic Packaging 2, All Security 1, APD Rhinos, Ford Rangers, Wild Bulls, APD Leopards, Pick n Pay, AfriForum en APD Springbokke.

Hoft sê APD Benede-Oranje het nou agt rugbyrolstoele, en dat ‘n span van hulle wat aan die vereistes voldoen, einde Augustus amptelik en vir die eerste keer aan die liga in Bloemfontein gaan deelneem.
Enigeen wat dié span kan ondersteun, kan die APD-kantoor in kantoorure by 087 086 2907 kontak. Besoek APD Benede-Oranje op Facebook vir inligting en foto’s van die rugbytoernooi.
- Besoek Upington Toyota op Facebook vir nog foto’s.






You must be logged in to post a comment.