law book next to a suitcase
Foto: Mikhail Nilov/pexels.com

Adv. Celeste Nameka (43), regsgeleerde van Kimberley, wat in twee afsonderlike sake aanklagte van onder meer aanranding, moord en poging tot moord in die gesig staar, se een strafsaak is verhoorgereed.

Nameka en haar pa, Clive Ferris (67), ‘n oudskoolhoof, het op Woensdag 16 April weer in die landdroshof in Kimberley verskyn. Albei is vroeër op borgtog vrygelaat. Die hofsaal was met polisielede van die taktiese reaksie-eenheid gepak.

Gerugte wil dit hê dat van die slagoffers doodsdreigemente ontvang het. In die een saak het Nameka vroeër, met haar pa se eerste hofverskyning op aanklagte van moord en voordat sy self aangekla is, na bewering iemand by die hofgebou gedreig. Sy is daarna van aanranding aangekla.

Dié ondersoek is voltooi en die saak verhoorgereed, sê landdros Kubashni Padayachee.

Uitslae, verdere getuieverklarings afgewag in nog ‘n saak

In die ander saak waarin Nameka en haar pa saam van moord en poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en die afvuur van ‘n vuurwapen in ‘n stedelike gebied aangekla word, wag die polisie op die uitslae van ballistiese en DNS-toetse, asook verdere getuieverklarings.

Charmaine Anthony
Charmaine Anthony, die oorledene op ’n plakkaat waarin geregtigheid vir haar dood geëis word. Foto: Facebook

Dié skietvoorval het vroegoggend op 21 Desember 2024 by ‘n woonkompleks in Minerva Gardens, Kimberley, plaasgevind waar Nameka saam het haar kêrel, Lucan Anthony, gewoon het.

Die kêrel is glo in sy boud geskiet terwyl ‘n middeljarige vrou, Charmaine Anthony, in die maag gewond is. Anthony is later aan haar beserings in die hospitaal oorlede.

Nameka het na bewering vir haar pa geskreeu om haar kêrel en sy familielede dood te maak met die woorde “Skiet hulle pappie, skiet hulle almal” het die ondersoekbeampte vroeër in die borgtogaansoek getuig.

Sers. Modise Clive Moshotloa, ondersoekbeampte, het in sy getuienis verklarings van sekere van die ooggetuies aangehaal en gesê kringtelevisiebeeldmateriaal van die voorval ondersteun die getuies se weergawes.

Volgens hom was ‘n vriendin die oggend by Nameka toe haar kêrel van sy werk tuiskom. ‘n Rusie het ontstaan waarin Nameka en die kêrel mekaar van ontrouheid beskuldig het. Nameka het haar pa gebel, en die kêrel het sy familielede gebel. Ferris het met sy aankoms met ‘n vuurwapen uit sy bakkie geklim en dit na bewering op die kêrel gerig.

Ferris het die kêrel glo met ‘n gebalde vuis in die gesig geslaan. Die kêrel beweer in sy verklaring dat Nameka aan haar pa gesê het “skiet hom pappie, skiet hom”.

Intussen het ‘n Renault-voertuig met vier mans, waarvan twee gemaskerd was, opgedaag. Nameka het haar glo by die mans geskaar. Die kêrel het oor die woonkompleks se hek na buite geklim waar sy familielede by hul voertuie was.

Nameka het die hek met afstandbeheer oopgemaak terwyl Ferris na bewering met sy vuurwapen die kêrel se broers om die motors gejaag het en toe glo ‘n skoot afgevuur het. Die oorledene het probeer vlug, maar is glo by die voorste motor in haar buik geskiet.

Albei sake is tot 17 Junie uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article