‘n Ewebeeld van die Paul Kruger-standbeeld wat op Kerkplein in Pretoria staan, is “op reis” van Pretoria, deur talle dorpe en stede, en doen op Woensdag 1 Oktober in Kimberley aan.
In Kimberley sal inwoners die geleentheid hê om die standbeeld van naby te besigtig, foto’s te neem én ‘n unieke opvoering, “Kruger breek die pad oop” te geniet. Dit is ‘n toneelstuk deur NP van Wyk Louw.
Enkele jare gelede het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) ‘n digitale skandering van die Kruger-standbeeld op Kerkplein gemaak en die gedagte het ontstaan om ‘n nuwe afgietsel te maak.
Cara Tomlinson, FAK-kultuurkoördineerder, verduidelik dat die beeld op Kerkplein in 3D afgeneem en gedruk is, waarna die beeld in brons gegiet is. Die nuwe Kruger-standbeeld is deur beeldhouer Jacques Müller gemaak.

“Dié bronsbeeld − met die voetstuk bygereken − is meer as 10 m hoog en weeg 1,5 ton,” sê Tomlinson.
‘n Voorlopige terreinontwikkelingsplan vir Orania se nuwe dorpskern is reeds ingedien en dit is hier waar die Kruger-standbeeld ‘n sentrale plek sal inneem. Die FAK en die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM) is die dryfkrag agter hierdie geskiedkundige projek, terwyl ander instellings soos AfriForum, Helpende Hand en Solidariteit ook gehelp het om die projek finansieel moontlik te maak.
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, beklemtoon die belangrikheid hiervan:
“Paul Kruger is vir Afrikaners veel meer as ‘n standbeeld of historiese figuur – hy is die beliggaming van Afrikaners se vryheidsideaal oor geslagte en in verskillende kontekste. Daarom is dit hartseer dat mense vandag huiwer om die plek te besoek waar hy al vir dekades op Kerkplein staan, omdat verval en misdaad die omgewing oorgeneem het. Nou is die oomblik om vir Kruger ‘n waardige nuwe tuiste te gee deur ‘n plein te skep waar Afrikaners kan saamkom, die vryheidsideaal kan vier, en dit aan die volgende geslag kan oordra.”
- Dié beeld kan op Woensdag 1 Oktober vanaf 17:00 by die NG kerk Bakenskop besigtig word, waar die opvoering ook sal plaasvind.
- Dit kom op 2 Oktober in Orania aan, met die amptelike onthulling op 10 Oktober − Kruger is op dié dag in 1825 gebore.
Besoek fak.org.za vir meer inligting.



You must be logged in to post a comment.