Die Walk-by-Faith-sopkombuis van Santa Centre in Kimberley beplan soos vorige jare ‘n Kersete en -partytjie vir ongeveer 120 minderbevoorregte kinders.
Dit vind op Saterdag 27 Desember om 12:00 plaas.
Gregory Taylor, stigter en voorsitter van dié nie-winsgewende organisasie, sê ondersteuning in die vorm van skenkings is nodig om dié geleentheid moontlik te maak.
LEES OOK: ‘Pot rys’ se seën vermenigvuldig met sopkombuis se uitreikingsveldtog
Kosprodukte vir die ete benodig is Russiese of Weense worsies, worsbroodrolletjies, tamatiesous en olie, asook roomys en roomyshorings vir nagereg.
Die organiseerders wil graag ‘n lekkergoed- en geskenkpakkie vir die kinders uitdeel. Hiervoor is aartappelskyfies, springmielies, stokkielekkers, beskuitjies en lekkergoed nodig. ‘n Speelding of enige skryfbehoefte-benodighede vir skool, asook skoolklere, soos skoene, hemde of broeke vir die nuwe skooljaar sal waardeer word.
“Ons sal dit ook hoog op prys stel indien iemand kan help met ‘n springkasteel vir die middag, of as iemand sy of haar dienste kan aanbied as ‘n nar, of om gesigverf te doen.
“Alle skenkings sal hartlik waardeer word. Enige geldskenking kan in ons rekening betaal word,” sê Taylor.
- Enige ander skenkings kan by 26832 Lynch-weg in Santa Centre afgelewer word. Bel of whatsapp Taylor op 073 198 3506 vir meer inligting, en besoek Walk-by-Faith Soup Kitchen op Facebook.





