As die Sol Plaatje-munisipaliteit niks doen om die slaggate rondom een van Kimberley se oudste supermarkte te herstel nie, dan spring die supermark-eienaar en personeel self in.
Johan de Klerk, eienaar van OK Foods K&B in Beaconsfield wat dié 70 jaar oue winkel twee jaar gelede gekoop en heeltemal opgeknap het, het besluit om die slaggate te laat regmaak.
“Die slaggate beïnvloed my besigheid nadelig omdat klante nie bereid is om dit met hul motors in die strate om die winkel te waag nie.
“Ek het die slaggate en waterlekke al male sonder tal aangemeld, maar niemand maak dit reg nie al betaal ons maandeliks belasting. Ons moet self ons eie omgewing verbeter.”
“Ons kan dit net na-ure doen sodat ons nie die verkeer benadeel nie, en die winkel moet aflewerings ontvang.”
Mariska Swiegers, winkelbestuurder, sê hulle het die goeie nuus dat hulle die slaggate herstel op Facebook geplaas om klante gerus te stel.





