Die man wat aangekla word van die moord op sy eksvrou twee dae ná Kersfees in Desember 2023 in haar huis in Beaconsfield, Kimberley, se verhoor wat vandeesweek in die hooggeregshof sou begin, is weer uitgestel nadat hy vir ‘n tweede keer sy regsverteenwoordiger afgedank het.
Dit volg ná nog ‘n hooggeregshofverskyning van Alberto Matthews (47) wat onder meer aangekla word van die skietdood van Mandy Bailey (43) in haar huis voor haar dogter (9).
Matthews is kort ná die voorval in hegtenis geneem.
Hy het twee onsuksesvolle borgtogaansoeke in die landdroshof in Kimberley gebring.
Tydens dié verskynings het vriende en familie van Bailey voor die hof betoog en hul misnoeë oor haar moord te kenne gegee.
‘n Petisie is ook ingedien dat hy nie borgtog moet kry nie.
Op Maandag 24 Maart het Matthews emosieloos in die beskuldigdebank voor ‘n volgepakte galery gesit, in afwagting van die verhoor.
Heinrich Steynberg van Regshulp Suid-Afrika (SA) wat namens Matthews optree, het aan regter Mpho Mamasebo versoek om verskoon te word nadat sy mandaat beëindig is.
Regshulp SA moet nou na ‘n nuwe regshulpverteenwoordiger soek om Matthews te verteenwoordig.
Adv. Leshnee Pillay, aanklaer, het aan die regter gesê dit is die tweede keer wat Matthews sy resgverteenwoordiger afdank.
Die regter het Matthews gewaarsku dat hoewel hy die reg op regsverteenwoordiging het, is die reg nie oneindig nie.
Die saak is tot 15 April gestel.





