Bykans 240 inwoners van Upington, onder leiding van AfriForum, het onlangs ‘n petisie aan die Dawid Kruiper-munisipaliteit oorhandig ter ondersteuning van die oprigting van spoedhobbels by die T-aansluiting in Quarry- en Schröderstraat.
Werner Strauss, AfriForum-distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap, sê sowat 100 meter vanaf dié aansluiting is ‘n padteken wat swaarvoertuie waarsku om regs te draai en nie verder met Schröderstraat te ry nie.
Hierdie padteken word dikwels misgekyk, en ongeveer 600 meter verder ry vragmotors teen die lae spoorwegbrug vas waar oor die jare heen herhaaldelik ernstige padongelukke en verkeersknope plaasgevind het.
Wanneer ‘n vragmotor naby die brug is, is omdraai bykans onmoontlik. Dit is wenslik om die bestuurders van sulke vragmotors betyds in te lig om nié onderdeur die brug te probeer ry nie.
Dié treinbrug is onlangs deur AfriForum oorgeverf om die sigbaarheid daarvan te verbeter.
“As vragmotors gedwing word om stadiger te ry, sal hulle meer tyd hê om die padtekens te sien wat hul waarsku oor die laagliggende brug. Dit sal motoriste boonop dwing om aan die stopteken gehoor te gee wat dikwels roekeloos oorgesteek word,” sê Strauss.
“Elke voorkomende maatreël wat vandag ingestel word, kan môre ‘n lewe red.”
Meld lae brug op Google Maps aan
Intussen het Henk van der Merwe, ‘n aktiewe lid van die gemeenskap, Trots Upington en die Facebook-blad Upington Concerned Citizens, ‘n beroep op inwoners gedoen om dié lae spoorwegbrug as sulks op Google Maps aan te meld.
Deur dit te doen, kan vragmotorbestuurders op dié app sien dat die brug ‘n maksimum vrye hoogte van slegs 3,3 meter het.
Volledige instruksies oor hoe om dit op Google aan te meld is op die Facebook-blad beskikbaar.




