POTPOURRI | Poog om die minder goeie te verander; neem beste saam vir 2026

books on a sofa
Neem die beste saam vir die nuwe jaar. FOTO: Polina / pexels.com

Ons is nog skaars besig om van die nuwejaarsvieringe te herstel en trek reeds by die middel van die eerste maand van die nuwe jaar. Tyd hardloop afdraende.

Die meeste mense is nie net terug by die werk nie, maar dit voel vir hulle asof hulle skaars verlof gehad het.

Leerlinge is terug op die skoolbanke. Roetines word hervat.

Navorsing wys dat dit vir die gemiddelde mens makliker is om met die aanbreek van iets nuut ‘n nuwe begin te maak of ‘n nuwe gewoonte aan te leer.

Aan die begin van ‘n nuwe week. Aan die begin van ‘n nuwe maand. Beslis aan die begin van ‘n nuwe jaar.

Vir die meeste mense wat aan die einde van ‘n lang jaar vir ‘n oomblik tot stilstand kom of asem skep of roetine breek, gee dit die geleentheid vir nuwe besluite vir die komende jaar.

Gesels jy met mense oor hul nuwejaarsvoornemens is daar so ‘n groot verskeidenheid soos daar mense is. Hulle wil gesonder eet. Meer oefen. Minder skinder. Meer stokperdjies beoefen.

Minder konflik beleef. Meer slaap inkry.

Nuwejaarsvoornemens stem in hierdie opsig baie met ‘n begroting ooreen. Dit werk gewoonlik die beste op papier.

Die oomblik wat jy skouer aan die wiel moet sit en inderdaad dit prakties toepas raak dit in baie gevalle onverklaarbaar ingewikkeld.

Persoonlik dink ek dat, om op die jaar wat verby is terug te kyk en daaruit te leer, ‘n goeie ding is.

Dit is dalk wys om die goeie saam met jou te wil neem en die minder goeie te wil verander.

Dit is juis hier waar nuwejaarsvoornemens inpas.

Vir diegene met nuwejaarsvoornemens, asook diegene daarsonder, geniet 2026. Mag die jaar wat voor ons uitgestrek lê met minder uitdagings gesaai wees as die vorige jaar.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article