Uitspraak word vandeesweek verwag nadat ses van die sewe veroordeeldes van die roof en moord op Piet Els (86), bekende in diamantkringe in Kimberley, verlede week in ‘n appèlaansoek in die hooggeregshof in die Kimberley teen hul skuldigbevindings en vonnisse betoog het.
Elk van die sewe aangeklaagdes is in Maart vanjaar aan verskillende aanklagte skuldig bevind. Dit volg nadat Els en sy vriendin (toe 68) op 24 Januarie 2018 deur vier mans in sy slaapkamer in sy plaashuis buite die Diamantstad gemartel en aangerand is. Kontant, munte, vuurwapens en ander besittings is gesteel. Els is drie maande later aan sy kopbeserings oorlede.
Die veroordeeldes is Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37) van Lesotho; Lizbeth Ndlala (56) en haar man, Themba Lawrence Maja (68), Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga; Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela in Mpumalanga; en Jabulani Zuma (62) van Mtubatuba, KwaZulu-Natal.

Regter Lawrence Lever het die twee moordenaars, Qhautse en Mahomane, benewens ‘n lewenslange vonnis elk ook vonnisse van 20 jaar gevangenisstraf vir huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede opgelê. Voorts is hulle vyf jaar vir seksuele aanranding opgelê. Die vonnisse word samelopend uitgedien.
Die staat het die appèlaansoeke teengestaan en aangevoer benewens dat hulle buitengewone redes moet verskaf hoekom ‘n ander hof tot ‘n ander beslissing sal kom, moet hul gronde van die appèlaansoek rasioneel sin maak.
Mahomane se aansoek om verlof tot appèl kort nadat hy gevonnis is, is reeds verwerp. Die regter het bevind ‘n ander hof sal nie tot ‘n ander gevolgtrekking kom nie.
‘Vonnis te swaar’
Adv. Japie Schreuder het verlede week namens Rankali aangevoer sy vonnis is te swaar. Rankali wat aan diefstal skuldig bevind is, was reeds twee jaar en drie maande in aanhouding voordat hy later op borgtog vrygelaat is. Sy vonnis van drie jaar is in die geheel vir vyf jaar opgeskort.
Adv. Themba Diba het verlede week benewens om die skuldigbevinding te betwis namens Qhautse aangevoer sy vonnis is ook te swaar.
Adv. Hannes Cloete, aanklaer, het hierop aangevoer Qhautse het nie in sy eie verdediging getuig en sy weergawe verskaf nie. Dit hou sekere gevolge in. Hy het nie rasionele gronde verskaf oor hoekom hy nie skuldig en gevonnis moet wees nie. Hy het die getuienis van die ondersoekbeamptes nie wesenlik betwis nie.
Twee weerlose bejaarde mense is ure lank gemartel in hul eie huis. Qhautse het nie dwingende persoonlike omstandighede bewys nie, en dien reeds ‘n vonnis uit vir ‘n afsonderlike saak vir ‘n rooftog in 2016.
Cloete het ook Ndlala en Maja se betoë dat hulle oud en sieklik is en na kleinkinders moet omsien, verwerp. So ook Mbokane wat aanvoer sy vrou ly aan ‘n ernstige siekte. Die regter het reeds van die voorgeskrewe vonnis afgewyk en hulle net tien jaar gevangenisstraf opgelê.
Volgens Cloete was hulle swak getuies. Hulle het geweet hulle kom na Kimberley om ‘n rooftog met ‘n ritueel te help uitvoer en is daarvoor vergoed. Hy verwerp hul storie dat hulle munte moes uitgrawe, want die “werk” is nooit gedoen nie. Hulle het hulle vereenselwig met dit wat in die Els se huis gebeur het en het Mahomane as hul agent saamgebring om die aanval te loods. Hulle het telefonies met mekaar gepraat ten tyde van die rooftog. Hul vonnis van tien jaar gevangenisstraf is reeds ‘n afwyking van die 15 jaar wat voorgeskryf word.
Misdaad gepleeg terwyl vrygelaat op parool
Adv. Moetleetsi Mokwera het namens Zuma aangevoer daar is gapings in die staat se saak, en dat sy inhegtenisneming onregmatig was. Hy betwyfel ook die selfoongetuienis teen hom, wat verdoemend in die uitspraak was.

Hierop het Cloete aangevoer dat sy inhegtenisname wetlik was en nie die veroordeling raak nie. Zuma het reeds met sy inhegtenisname sy binnekennis van die Els-huishouding en die feit dat die meesterbrein van die rooftog in Lesotho skuil, aan die polisie verklap. Die selfoon wat hom aan die rooftog en moord verbind, het hy self as sy selfoonnommer aangedui in ‘n onverwante saak wat hy by die polisie aangemeld het. Dit was ses maande ná die moord plaasgevind het, voor hy in hegtenis geneem is.
Zuma het nooit ontken die selfoonnommer was syne nie, en het eerder drie verskillende weergawes gehad oor ander mense wat sy selfoon ten tyde van die voorval misbruik het.
Cloete het aangedui hy is soos Zuma ontevrede dat die ander meesterbrein deur die polisie se vingers geglip en in Lesotho skuil.
Zuma het reeds ‘n verlaagde vonnis van 20 jaar en nie 25 jaar gevangenisstraf gekry vir ‘n misdaad wat hy gepleeg het terwyl hy op parool vrygelaat was weens ‘n ander ernstige misdaad.
- Regter Lawrence Lever se uitspraak word Vrydag 29 Augustus gelewer.



You must be logged in to post a comment.