Gert van Zyl met selfieraam.
Gert van Zyl met een van die unieke selfie-rame wat te sien was. FOTO: Verskaf

‘n Vashaaknoot van die orrel van die NG kerk Van Zylsrus het indirek tot ‘n kultuurkuier in die Kalahari gelei.

Onder groot kameeldoringbome op die gasteplaas Oppiknoppi in die Severn-omgewing, het die dekor van dié kultuurkuier geen twyfel gelaat dat dit Valentynsdag “Ver in die ou Kalahari” was nie.

Lidmate van die Doringdraaiwyk van die NG kerk Kuruman, asook Van Zylsrus- en Askhamvriende is vir dié kuier deur Pieter en Tania Grové ontvang.

Willie de Bruin met een van die selfie-rame met die aasvoëlgeoglief as tema. FOTO: Verskaf

Die idee vir dié kuier het by Pieter Pienaar posgevat toe hy gedurende die beplanningsfase van die eerste Van Zylsrus kunsteweek in 2025 verneem het dat die orrel by die NG kerk Van Zylsrus ‘n vashaaknoot het wat omtrent R9 000 sal kos om reg te maak. Wanneer die orrel reg is, sal orreluitvoerings gedurende toekomstige kunsteweke aangebied kan word, het hy gedink.

Plaaslike vriende het saamgestem en só het elkeen wat die kultuurkuier meegemaak het, R100 vir die orrel se regmaak geskenk.

Pieter Pienaar met vlerke. FOTO: Verskaf

Met die beplanning van die kuier is die lang afstande en versengende hitte in ag geneem met Askham en Oppiknoppi wat byvoorbeeld 240 km uitmekaar is.

Afgesien van inspirerende praatjies, was daar byderwetse selfie-rame en ‘n skyfskiet-kompetisie met ‘n windbuks. Boonop kon elkeen wat enigiets vervaardig, bak of kook dit uitstal en verkoop.

Dien ook as platform vir talentvolles

“In die platteland is soveel talentvolle mense, maar uitstalgeleenthede ontbreek soos baie kleindorpse kunsvlyters sal kan beaam,” sê Pienaar. Konfyte, heuning, droë vrugte, kleurvolle Valentynskoekies en trooskussinkies was onder meer te koop.

LEES OOK: Aasvoël-geoglief sprei sy vlerke in die Kalahari-sand

Kalahariskrywers en -digters het ook saamgestaan. Heleen Bruwer het haar nuutste publikasie, Phanina, bekendgestel en Chummy de Bruin, skrywer en samesteller van Kalahari-stories, het vertel hoe die Pennevrug-bundel ontstaan het wat verlede jaar vir die kunsteweek saamgestel en gedruk is. Hélène Burger, taalkenner en -versorger, het vertel van hulpmiddels om vir geskrewe taalgebruik aan te wend.

Talle tuisgemaakte produkte het ook ‘n uitstalruimte tydens die kultuurkuier gekry. FOTO: Verskaf

Nog ‘n oogmerk van die kuiergeleentheid was om die teenwoordig in te lig oor kultuuraktiwiteite in die wyer streek en om klem te plaas op moontlikhede wat die kreatiewe ekonomie bied.

“Jagters wat die Kalahari in die jagseisoen besoek vorm die grootste deel van die kreatiewe ekonomie, maar in die stiller maande wanneer oornagfasiliteite leeg is, moet ander aspekte dalk aangespreek en ingespan word,” sê Pienaar.

Gert van Zyl, toerismekenner van Askham en eienaar van Thirstland Trails, het vertel wat hulle in die omgewing van die Kgalagadi Oorgrenspark doen om internasionale en plaaslike toeriste te lok.

Marathondag, konsert wy geoglief amptelik in

Pienaar, wat saam met die Van Zylsrus-gemeenskap, Site Specific Collective-span en Kobus Duvenhage-bouers werk om die aasvoëlgeoglief, wat ‘n Google Earth-landmerk sal wees, in Mei klaar te maak, het kortliks verslag gelewer oor die vordering hiervan. Later vandeesmaand word die laaste 15 000 klippe gelaai om die geoglief te voltooi en Saterdag 9 Mei vind ‘n marathondag plaas om fondse hiervoor aan te vul. Later die dag word ‘n opelugkonsert aangebied om die geoglief in te wy.

Teen Junie behoort Van Zylrus oor ‘n unieke meditasieroete te beskik wat ‘n toeristebesoek aan dié dorpie kan regverdig.

LEES OOK: Eerste kunsteweek in Van Zylsrus: ‘Opwindend vanaf die eerste oomblik’

Na die filosofiese kultuuurkuier-gedagtes gewissel is, kon mans en vroue met ‘n windbuks teikenskiet en meeding om die gesogte prys.

Die kultuurkuiertjie het daarin geslaag om R3 500 vir die orrelrestourasie in te samel, wat later in die maand herstel sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article