Hiermee die derde aflewering van ‘n reeks wat ‘n Noord-Kapenaar oor die lewe saam met ‘n narsistiese ma geskryf het.
Ek is vroeg in die laerskool.
Die tydskrif waarin die engeltjie stap-vir-stap uiteengesit word, lê oop voor my op die sitkamermat. Stukkies karton, watte, kleurpotlode en blinkertjies lê rondom my uitgesprei. Uiteindelik is die engeltjie klaar. Ek staar trots na my handewerk. Hierdie engeltjie het ek spesiaal vir my ouma gemaak. Ek het net een ouma. Geen oupas nie.
Die engeltjie word versigtig op die sitkamerbank neergesit en ek begin opruim. Daar is meer goed op die vloer as wat ek gedink het.
Ek tel die engeltjie liggies met my wysvinger en duim op en dra dit kombuis toe waar ek my ma hoor werfskaf. “Kyk wat het ek vir Ouma gemaak,” skerts ek opgewonde. Sy draai na my kant toe en vat die engeltjie.
“O, dis pragtig!” sê sy en beskou die engeltjie op en af. Dan gee sy dit vir my terug en stap by die kombuis uit na die hoofslaapkamer.
My ma sluit weer by my aan terwyl ek nog in die kombuis staan en my handewerk bewonder. Ek skrik toe sy begin praat.
Ek kan sien sy het gehuil en terwyl sy beduie, vee sy die trane uit haar oë.
“Ek hardloop kamer toe omdat ek geweet het jy sou vir my ook ‘n engeltjie gemaak het, dalk op my kussing gesit het vir ‘n verrassing! Maar niks! Jy is bereid om vir jou ouma so ‘n mooi engeltjie te maak, maar nie vir my nie!”
My liggaam bewe liggies. Ek trek die kombuislaai oop en haal ingedagte die skêr uit. Ek moes seker geweet het my ma sal ‘n engeltjie wil hê. Ek moes eerste vir haar ‘n engeltjie gemaak het.
Ek weet hoe sulke goed haar ontstel. Dalk moes ek net vir haar een gemaak het en nie vir Ouma nie.
Ek gaan sit kruisbeen op die sitkamermat en kry die tydskrif oop op die prentjie van die engeltjie. My hande bewe terwyl ek die patroon aftrek. Na ‘n geruime tyd is die engeltjie klaar. Ek staar na die geknipte karton met die rok-doillies en geplakte watte. Dit is nie meer vir my mooi nie.
“Hier is Mamma se engeltjie,” probeer ek so opgewonde moontlik sê. Sy neem die engeltjie en sit dit op haar bedkassie.
Narsiste sien hulself vinnig as die slagoffer. Volgens hulle word hulle te nagekom. Hulle word onregverdig behandel.
Hulle trek aan die kortste end. Hoe durf jy? Hulle kan uitdeel, maar hulle kan nie ontvang nie.
Die onsigbare dekmantel wat oor emosionele mishandeling hang maak dat slagoffers nie herken of gehelp word nie. Jy moet self probeer oorleef.
Ek skryf oor hierdie littekens wat ek in my hart ronddra om ‘n fisiese bewys te hê van ‘n lewe wat ek nie wou leef nie.
As dit iemand kan help om uit die wurggreep van narsisme weg te breek, soveel beter.
LEES OOK: NARSISME 2 | Narsiste dryf ‘n ongekende vrees in hul slagoffers in



