Die man wat van die moord op twee polisielede in Kimberley in Augustus 2023 aangekla word, se verhoor is op Dinsdag 18 Maart weer in die hooggereghof in Kimberley uitgestel nadat hy ‘n tweede regsverteenwoordiger van Regshulp Suid-Afrika (SA) afgedank het.
Daniel Wilfred Alberts (40) het met sy eerste hofverskynings in die landdroshof ‘n Regshulp SA-regsverteenwoordiger afgedank en aangedring op ‘n private regsverteenwoordiger. Met latere hofverskynings het hy die voorsittende beamptes talle kere gevra vir ‘n bevel dat die polisie hom van die gevangenis na ‘n bank neem sodat hy geld kan trek om ‘n private regsverteenwoordiger te betaal.
Toe hy in Februarie vir die eerste keer in die hooggeregshof verskyn het, is hy deur Heinrich Steynberg van Regshulp SA verteenwoordig.

Steynberg het aangedui dat hulle die gerekende dr. Gerard Labuschagne, forensiese sielkundige, wil raadpleeg oor die sielkundige verslae van Alberts wat die staat bekom het nadat hy vroeër in die Noord-Kaapse psigiatriese hospitaal waargeneem is, en ook die toetsuitslae van bloed- en urientoetse wat op die dag van sy inhegtenisname geneem is, bestudeer.
Die beskuldigde staar 12 aanklagte in die gesig, wat insluit moord, ontvoering, diefstal, roof, roof met veswarende omstandighede en roekelose bestuur.
Uit die opsomming van wesenlike feite in die akte van beskuldiging voer die staat aan Alberts het met voorbedagte rade opgetree en mense na bewering gedood, besteel, beroof, gedreig en ontvoer.
Alberts het na bewering op 10 Augustus 2023 in Sandton, Gauteng, ‘n wit Hyundai i10-motor ter waarde van R200 000 van Stuart van der Volk se Stuart’s Car Hire gehuur, maar nie daarvoor betaal nie. Alberts het in besit daarvan gebly tot hy aangekeer is.
Skiet glo verskeie noodlottige skote
Op 21 Augustus het Alberts na De Wetsdorp in die Vrystaat gery waar hy ‘n skootrekenaar en ‘n laaier van ‘n vrou wou koop, maar dit glo gesteel het. Van der Volk kon intussen vasstel dat die motor naby Bloemfontein beweeg en het die polisie in kennis gestel. Dodds Pringle, wat ‘n sekuriteitsmaatskappy in Kimberley besit, het ook ondersoek ingestel en die blitspatrollie op hoogte gehou.
Dié dag is sers. Kedimetsie Masilo en konst. Onkeatse Mandindi, die twee polisielede wat doodgeskiet is, en ander voertuie by die Puma-vulstasie op die N8-roete vanaf Bloemfontein geplaas. Die polisie het die gesteelde motor gewaar, en Alberts het daarin weggejaag toe hulle hom wou voorkeer.

Hy het naby die Diamond Pavilion-inkopiesentrum reg voor aankomende verkeer ingery, en skerp regs by die spoorwegwerf gedraai en ingery, waar hy in ‘n sloot ingejaag en die motor “afgeskryf” het. Hy het te voet gevlug.
Mandindi het hom te voet ingehaal, en sy vroulike kollega aangesê om te help om Alberts te boei. In die struweling het Alberts een van hulle se R5-outomatiese vuurwapens afgeneem en na bewering verskeie noodlottige skote op die lede geskiet.
Dreig twee voertuigbestuurders met vuurwapen
Alberts het verder gevlug en Francois Bronkhorst in sy Toyota Hilux-dubbelkajuitbakkie op die spoorwegwerf teëgekom waar hy tydens teetyd gesit het. Hy het Bronkhorst glo met die vuurwapen gedwing om tot by die sekuriteitshek te ry, waar albei uit die voertuig geklim het. Bronkhorst het egter vinnig in sy bakkie teruggeklim, die deure gesluit en weggery.
Omstreeks 10:00 het Alberts vir Conrad Buitendach jr. en Conrad Buitendach sr. in hul bakkie in die werf teëgekom en hulle glo met die vuurwapen gedreig om die bakkie oop te sluit. Alberts het agterin geklim en hulle gedwing om in die rigting van Johannesburg te ry. Op pad het Alberts glo onbekende middels ingeneem, en toe ‘n aankomende voertuig ligte flits, het Alberts hulle beveel om af te draai na die Riverton-plesieroord noord van Kimberley.
By die oord het hy hulle gedwing om uit te vind of daar verblyf beskikbaar is. Toe hulle by private wonings uitklim, kon Buitendach sr. vir Alberts oorrompel en die vuurwapen afvat. Hy het die vuurwapen beveilig, in die bakkie geplaas en na Kimberley teruggejaag.
Die polisie het Alberts in Riverton in hegtenis geneem.
Adv. Catherine Jansen kla aan. Die saak is tot 15 April uitgestel.
Regterpresident Pule Tlaletsi lei die verhoor.






You must be logged in to post a comment.