Ekapa Minerals-myn in Kimberley. FOTO: Charné Kemp
Ekapa Minerals-myn in Kimberley. FOTO: Charné Kemp

Die geskenk van diamante het Kimberley bykans 160 jaar bevoordeel. Nou is die vraag of die mense van Kimberley, insluitend sakelui, owerhede, belastingbetalers en diegene wat tans nie vir dienste betaal nie, die stad verder gaan laat verval, of ‘n nuwe lewe gaan gee.

In ‘n mediaverklaring gee dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en provinsiale leier van die Noord-Kaap, sy mening oor die nuutste en dramatiese gebeure in Kimberley:

Die waarskynlike dood van vyf mynwerkers ná ‘n modderstorting verlede week in die Du Toitspan-myn van Ekapa Minerals, asook Ekapa se aankondiging op 25 Februarie dat die myn met ingang van Woensdag gesluit is, met gevolglike likwidasie, is ‘n menslike en ekonomiese ramp.

Dr Wynand Boshoff
Dr Wynand Boshoff

Die waarskynlike dood van vyf mynwerkers in Kimberley is ‘n menslike tragedie wat inwoners van Kimberley aan die hart gegryp het, en die likwidasie van die Ekapa-diamantmyngroep in Kimberley is die volgende mylpaal in ‘n proses wat lank reeds aan die gang is: Die afnemende belang van diamantmynbou in die sogenaamde Diamantstad.

Die vraag of Kimberley ‘n nuwe staanplek kan verwerf – die stad as’t ware kan herontwerp – is in die hande van Kimberliete self.  

Met ongeveer ‘n duisend werknemers was Ekapa net ‘n skaduwee van De Beers op sy piek. Dié diamantreus het bedrywighede in Kimberley geleidelik afgeskaal en in 2016 sy laaste mynboubates in Kimberley verkoop.

LEES OOK: Tragic end to 158-year diamond mining era: Five miners lost, Ekapa faces liquidation

Nogtans is Ekapa ‘n groot werkgewer vir Kimberley – ‘n klein plattelandse stad met ongeveer driehonderdduisend inwoners en ‘n hoë werkloosheidskoers. Volgens Ekapa kan dit tot 18 maande neem om die myn weer in werking te stel ná die modderstorting. Met die huidige lae pryse en mededinging van kunsmatige diamante is dit volgens die myngroep eenvoudig nie lewensvatbaar nie.

Die huidige vraag, waarop slegs rolspelers in en om Kimberley kan antwoord, is of die stad as iets anders as die Diamantstad herbedink kan word.

Kimberley strategies geleë

Landbouverwante bedrywe kan ‘n groter rol speel, met Kimberley as middelpunt van vier groot besproeiingskemas: Die Oranje-, Vaal-, Riet- en Hartsrivier huisves gesamentlik ‘n groot en stabiele landbouproduksie wat insette en verwerking verg.

Kimberley is strategies geleë op hoofroetes van noord na suid, sowel as van die yster- en mangaangebiede in die omgewing van Kathu na uitvoerhawens.

‘n Reddingspan van Black Mountain Complex is ook by Ekapa ontplooi om na die vyf vermiste mynwerkers te soek. Die soektog na die vyf, wat vermoedelik oorlede is, duur voort. FOTO: Facebook / Black Mountain Complex

Verder is dit in ‘n streek wat buitengewoon geskik is vir die benutting van sonenergie. Die status as provinsiale hoofstad en tuiste van die Sol Plaatje-universiteit tel ook in Kimberley se guns.

Aan die negatiewe kant is verbrokkelende paaie en die Sol Plaatje-munisipaliteit wat sedert 2018 van een krisis na die volgende voortploeter.

Diamantstormloop het subkontinent onherroeplik verander

Die diamantstormloop, wat aanvanklik wanordelik was en op geluk staatgemaak het, het die politieke – en ekonomiese landskap van die hele subkontinent onherroeplik verander. 

Vir die eerste keer was daar in die binneland ‘n markekonomie wat werkers en fortuinsoekers van heinde en verre na hierdie semi-woestynstreek gelok het. Tradisionele samelewings sover as die huidige KwaZulu-Natal, Limpopo en selfs verder is tegelyk ontwrig en versterk.

Die beskikbaarheid van kontantlone het die tradisionele leefwyse en die rol van tradisionele leiers ontwrig. Die stelsel van trekarbeid, waarvoor Suid-Afrikaanse mynbou berug is, het hier ontstaan. 

Aan die ander kant kon hierdie selfde gemeenskappe die eerste keer ‘n oorvloed vuurwapens en ammunisie koop om hulself teen kolonisering te verdedig. 

Magnate soos Cecil John Rhodes, Barney Barnato en Alfred Beit het hul fortuine in Kimberley gemaak. Hulle het ook met die vereistes vir diep mynbou vertroud geraak. Daarom kon hulle later die goudvelde van die Witwatersrand, wat selfs ryker, maar ook meer veeleisend was, ontgin.

In Kimberley het myners en geoloë saam die geheimenis van die verspreiding van diamante ontrafel: Dié edelgesteentes is in vulkaniese pype onder geweldige hoë druk en temperature gevorm. Diamantdraende vulkaniese pype is gevolglik “kimberliet” gedoop – ‘n woord wat steeds daarvoor gebruik word.

Hierdie deurbraak het dit moontlik gemaak om meer akkuraat vir diamante te prospekteer, sowel vir die kimberliet self, as alluviale diamante wat in die oertyd deur riviere verder versprei is.

Fabelagtige rykdom opgelewer wat elders belê is

Hoewel die diamantmyne van Kimberley fabelagtige rykdom opgelewer het, het dit grootliks by mynbou gebly. Waardetoevoeging vind hoofsaaklik in Indië, België en Israel plaas. Die moontlikheid van ‘n diamantnywerheid in Kimberley, wat selfs ná die uitputting van plaaslike myne ‘n sterk ekonomie kon skep, het nie werklikheid geword nie.

Die rede is waarskynlik dat die De Beers-maatskappy, wat dekades lank die ontginning, verhandeling en verwerking van diamante oorheers het, se vernaamste belange nooit in Kimberley was nie. Kimberley was bloot die afgeleë bron van welvaart wat elders belê is.

LEES OOK: Ekapa in Kimberley goes into liquidation amid ongoing search for trapped miners

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article