Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Elke selfooneienaar ly in ‘n mindere of meerdere mate aan “nomofobie” of No Mobile Phone-fobie of foonskeidingsangs. Dié fobie is ‘n newe-effek van interaksie tussen die mens en dié kommunikasie-hulpmiddel en het unieke kenmerke wat nie net op jeugdiges en die jonger geslag van toepassing is nie.

Angstigheid aan die gedagte om sonder jou foon te moet wees en nie met ander te kan kommunikeer nie, om van die wêreld “afgesny” te wees, om nie digitale inligting onmiddellik te kan bekom nie, en om van dié gerief en bekendheid van die foon in jou hand, sak of langs jou op die tafel geskei te wees, kom onder alle ouderdomsgroepe voor.

‘n Mens kan redeneer dat selfone deel van die moderne wêreld is, en basta.

Maar in talle studies, soos ook uiteengesit op verywellmind.com – ‘n webwerf wat gesondheids- en welstandsinligting deur gesondheidswerkers verskaf – is bevind dat gereelde of kompulsiewe selfoongebruik direk tot toenemende spanning, angstigheid en depressie bydra.

Voortdurende selfoongebruik verhoog angstigheid en toenemende ontevredenheid met jou doen en late.

Dit skep die gevoel dat jou algemene welstand verswak, want jy vergelyk dit met ander mense s’n wat jy op jou selfoon sien, én met hul gesinne, huise, maaltye, kleredrag, oefenroetine, tuine, troeteldiere, voertuie, vakansies, vryetydbesteding – noem maar op – wat vanuit dié plat skermpie altyd beter as jou eie lyk.

Voeg hierby die studies en wete dat kuber-boeliery onder kinders ‘n werklikheid is; dat selfoongebruik tydens skoolure onderrig negatief beïnvloed omdat dit aandag aftrek; dat dit leerlinge se konsentrasie belemmer; en dat dit die vermoë om iemand direk in die oë te kyk en te kommunikeer verswak.

Daarom is dit verblywend dat meer skole selfoongebruik tydens skoolure verban. ‘n Hoof van ‘n skool in Finland het vertel dat dié skool weer “lewe” het, want meteens praat leerlinge pouses met mekaar. Hul akademiese prestasies het verbeter.

Enkele skole in Suid-Afrika het dit reeds beleid gemaak, en hieroor sê ‘n betrokkene: “Kinders praat met mekaar, kyk op wanneer hulle loop, en fokus beter gedurende klas.”

En bravo vir Finland se minister van onderwys, Anders Adlercreutz, wat sê: “In a world that is moving so fast, perhaps the role of schools is also to teach slowness, to be a place where you have to force yourself to read longer texts, focus on one thing, and work purposefully toward a long-term goal.”

Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article