So aan die einde van somer en met die aanvang van die eerste maand van herfs is dit nie net die koeler oggendluggie wat ‘n kilte veroorsaak nie.
Die gedagte aan die vyf vermiste werkers in ‘n myn in Kimberley, en die verdriet waardeur hul geliefdes gaan, knaag aan ‘n mens. So ook die aankondiging dat die Ekapa-myn aansoek vir likwidasie doen; met die gevolg dat baie meer as 1 000 broodwinners werkloos gelaat word.
Terwyl jy die vroegoggendlug in Kimberley inasem – met ‘n nare rioolreuk op die wieke van die wind – dink jy aan die inwoner van Wrenchville by Kuruman wat al meer as drie jaar met ‘n rioolmangat wat permanent op sy sypaadjie oorborrel, moet saamleef.
Jy dink aan inwoners van Upington, Kakamas en hoeveel ander dorpe wat in verstikkende rook vanaf die amptelike én nie-amptelike brandende stortingsterreine moet saamleef.
Jy onthou van die mediaverklarings dat nog meer munisipaliteite in die Noord-Kaap waterkrisisse ondervind – en nie omdat daar te min water is nie.
Dan lees jy van die ontluikende krisis in die Midde-Ooste met die Amerikaans-Israeliese militêre optrede teen Iran en die gepaardgaande vergeldingsaanvalle.
Dit het tot gevolg dat internasionale lughawens in onder meer Dubai, Abu Dhabi en Doha vir lugverkeer gesluit is.
Die strategiese ligging van dié lughawens, met die Dubai- Internasionale Lughawe een van die besigste ter wêreld, maak dit van die belangrikste spilpunte tussen Europa, Afrika en die Weste na Asië.
Benewens lewens op die spel, kring hierdie militêre aanvalle wyd uit na ander sektore. Só word hoër oliepryse reeds voorspel. Dit terwyl die konflik in die Gaza-strook, asook tussen Oekraïne en Rusland, voortgaan – ‘n oorlog wat as die grootste en dodelikste sedert die Tweede Wêreldoorlog beskou word.
Hieroor het die Oekraïnse president Wolodimir Zelenski gesê dat Rusland effektief reeds die Derde Wêreldoorlog begin het.
Die moontlikheid van ‘n volskaalse Derde Wêreldoorlog duik in gesprekke op, en sommige kenners het die waarskynlikheid van wêreldwye oorlogvoering binne die volgende vyf jaar op ongeveer 20% tot 30% geraam.
Teen hierdie makabere agtergrond is dit ‘n ironiese ligpunt om te lees dat Suid-Afrika as een van die veiligste lande – saam met Antarktika, Nieu-Seeland, Ysland, Switzerland, Ierland, Chili en Argentinië – beskou word, sou ‘n Derde Wêreldoorlog uitbreek. Dit ongeag dié land se kommerwekkende misdaadstatistiek.
LEES OOK: Middle East conflict drives over 6 400 South Africans to register for evacuation assistance





