Hier te midde van die tweede laaste maand van 2025 − terwyl die jakaranda-bloeisels stilweg grond toe daal en tot niks vertrap word onder voertuigbande, of deur raserige blaarblasers tot in die bure se erf verjaag word − wikkel en woel dit steeds.
‘n Skooljaar is op sy einde, terwyl planne reeds vir die volgende skool- of lewensjaar beraam word.
Elders word spertye nagejaag, boedel oorgegee of laaste krag ingesit om 2025 se doelwitte wel te bereik.
Intussen stap die tyd onverbiddelik aan en is elke gister en netnou onherroeplik verby. Of ‘n mens nou daarteen protesteer of nie.
Net soos wat dit nie sou help om te protesteer dat die afgelope Saterdag se Kimberley-parkrun weens protes-optrede afgestel is nie. Want diegene wat aan dié protes-optrede deelneem, het ‘n doel en ‘n sê te sê − wat waarskynlik belangriker is as ander se weeklikse stap of draf van 5km.
So wonder ‘n mens oor die doeltreffendheid van die gewelddadige protes-optredes in Tanzanië ná ‘n klaarblyklike betwisbare en chaotiese verkiesing wat in dié land plaasgevind het.
Die weermag is glo ingeroep, skote het geklap, voertuie en strukture is aan die brand gesteek en die regering het glo selfs ‘n internet-afsluiting afgedwing.
Hoeveel mense in die protes-optredes dood is, is nog nie bevestig nie.
So het gewelddadige protes-optrede ook in Kameroen, Serwië, Gaza en wie weet waar nog plaasgevind.
In Suid-Korea het meer as een protes-optrede plaasgevind wat plek-plek gehalt is sodat onbetrokke voetgangers oor die straat kan stap en op hul weg na eie doen en late kan voortgaan.
Volgens die Social Change Lab is bevind dat protes-optrede ‘n kans op sukses het wanneer veral drie faktore in ag geneem word. ‘n Protes-optrede sonder geweld het glo groter kans om te slaag. Dit slaag ook beter wanneer die sosio-politiese konteks gunstig is. Ook, protes-optredes behoort groot aantalle deelnemers te hê.
Daarom, wanneer ‘n enkele protesterende stem op Facebook eis: “Asseblief geen lelike kommentaar nie”, dra dit geen gesag nie.
Juis dan kom die “lelike” kommentare soos brandende motorbande aangerol.




