Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

So hand-aan-hand in een week is die jaarlikse staatsrede (Sona) deur die Suid-Afrikaanse president gelewer, en het Valentynsdag ook gekom en gegaan.

Die staatsrede vind gewoonlik in die middel van Februarie plaas, en dit het al gebeur dat dié dag en Valentynsdag op dieselfde dag plaasvind.

In van sy staatsredes het president Cyril Ramaphosa na Valentynsdag verwys en genoem dat liefde vele vorme aanneem, waarvan liefde vir jou medemens sekerlik een van die belangrikste is.

Net soos wat rooi rose, geskenksakkies met rooi harte, of ‘n nuwe rooi rok of das op Valentynsdag te voorskyn kom, is die rooi tapyt weer eens vir die staatsrede uitgerol en hierop is gepronk en geskitter in nuwe klere.

Dit met die afvuur van die 21 kanonskoot-saluut en die militêre erewag in die agtergrond, asook die verbyvlug deur die lugmag – net soos deur jarelange tradisie bepaal.

Met verlede week se staatsrede met sy prys-etiket van sowat R7 miljoen, het die president soos gebruiklik met sulke geleenthede die nasie as te ware die hof gemaak met verskeie beloftes en spreekwoordelike hartjies uitgedeel.

Soos die belofte van R156 miljard wat vir water- en sanitasie-infrastruktuur alleen oor die volgende drie jaar toegeken is om die waterkrisis oor die land heen te beëindig.

Of die uitwissing van bendegeweld, onwettige mynery en georganiseerde misdaad.

Of die belofte dat die prestasie van die spoorwegstelsel en hawens omgekeer word.

Bek-en-klouseer is as nasionale ramp verklaar – maar wat gaan nou vinnig en drasties daaromtrent gedoen word want dit is nie ‘n ramp wat boere alleen ten ergste benadeel nie.

Die glans van so ‘n afgeronde staatstoespraak en glansfigure op die rooitapyt word vinnig deur die werklikheid verdof wat Suid-Afrikaners dag na dag aan eie bas voel.

Werklikhede soos werkloosheid, powere bestuur van munisipaliteite, gebrek aan verantwoordbaarheid en om die skuldigdes uit die stelsel te kry, misdaad, onvermoë om korrupsie wortel en tak uit te roei, bek-en-klouseer wat al verder versprei, en die lys gaan aan.

‘n Mens kan ook terloops noem dat die staatsrede in die Kaapstadse-stadsaal plaasgevind het en nie in die parlementsgebou nie omdat dié steeds nie herstel is ná die brandstigting wat in Januarie 2022 plaasgevind het nie.

Net soos Valentynsbeloftes wat soms nie langer as die sjokolade of die ballonne hou nie, word dieselfde pad vir van dié glad-geoliede staatsrede-beloftes vermoed. ‘n Doodlooppad met geen liefde vir die medemens nie.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article