Lehan en Sunica Müller
Lehan en Sunica Müller. FOTO: Facebook

Ma van drie jong kinders in kritieke toestand ná ongeluk waarin man sterf


UPINGTON – ‘n Geldinsamelingsveldtog is begin om die mediese uitgawes van die 31-jarige Sunica Müller van Upington te help delg ná sy ernstig in ‘n motorongeluk beseer is. Haar man, Lehan Müller (33), is in die ongeluk dood.

Die egpaar se voertuig het glo Dinsdag 6 Oktober omstreeks 18:00 sowat vyf kilometer buite Olifantshoek met ‘n aankomende vragmotor gebots. Lehan is op slag dood. Hul drie jong kinders – AB (7), Léha (5) en Lehan jr. (3) – was by familie en nie saam met hulle in die voertuig nie.

Lehan en Sunica was sowat agt jaar getroud en was vir 13 jaar ‘n paartjie. Lehan was in 2012 ín matriek aan die Hoërskool Noord-Kaap in Kimberley, en Sunica in 2013 aan die Hoërskool Kalahari in Kuruman. Die gesin het blykbaar twee maande gelede na Upington verhuis.

Lehan en Sunica Müller
Sunica en Lehan Müller en hul drie kinders, Léha, AB en Léhan jr. FOTO: Facebook

Toestand steeds kritiek

Sunica is aanvanklik in ‘n hospitaal in Kathu opgeneem, maar is weens die erns van haar beserings per lugambulans na ‘n private hospitaal in Kimberley oorgeplaas.

Volgens inligting op ‘n WhatsApp-kanaal wat deur Jenni van der Merwe, Sunica se suster, begin is, is haar suster se beserings baie ernstig. Dit sluit ‘n ernstige kopbesering in wat tot bloeding en swelling van die brein gelei het. Sy het ook ‘n gebreekte sleutelbeen en skouerblad, vier gebreekte werwels en drie gebreekte ribbes – waarvan een ‘n long deurboor het.

Teen Vrydag omstreeks 11:00 was Sunica se toestand steeds kritiek, en word sy nog onder sedasie gehou om haar brein maksimum geleentheid te gee om te rus en te herstel. Die vog en bloed in haar een long word nog dreineer. Haar bloeddruk was onstabiel, en weens infeksie word antibiotika aan haar toegedien. Weens die infeksie het sy effense koors.

Haar niere funksioneer egter goed, en volgens die plasing op die WhatsApp-kanaal word daar nou vir die ortopeed se aanbeveling gewag om te hoor of sy beweeg mag word sodat die wonde aan die agterkant van haar liggaam versorg kan word.

Ondersteun só

Die familie raai voornemende besoekers af om vir Sunica in die hospitaal te besoek, en stel voor dat belangstellendes by die WhatsApp-kanaal inskakel waar die nuutste inligting oorgedra word.

Etlike honderdduisende rand is blykbaar reeds aan mediese uitgawes betaal, en die Müllers het nie ‘n siekefonds nie. Op die plasing op BackaBuddy word geskryf dat geld nodig is om te help met die dekking van onmiddellike hospitaal- en mediese uitgawes, spesialisbehandeling en operasies, voortdurende mediese sorg, asook verblyf en verwante uitgawes vir familielede wat naby Sunica moet wees.

  • Besoek “Carried by Grace : Help Sunica Heal” op BackaBuddy

Medelye betoon

Lehan was ‘n kranige sportman en bekend op die rugby- en krieketveld. Tydens sy skoolloopbaan is hy in onder meer die Cravenweek-spanne ingesluit, en was hy telkens die kaptein van sy rugbyspan. Op die Facebook-blad van die Hoërskool Noord-Kaap is die volgende plasings onder meer oor Lehan gemaak:

Shaun Clarke: “Aaai pel. Hierdie nie lekker om te lees nie. Jy was ñ pel duisend. Sterkte aan jou familie!”

Charlton Craig Koopman: “Joh boet Lee this one hits home boeta.”

Dale Adam: “What a loss! Lehan was a talented rugby player. Great sense of mischief, good humour and loved by everyone. Excellent ball carrier. Condolences to his close friends, relatives and immediate family.”

Boon Boonzaier: “Ai, sterkte aan die familie. Was n mooi Newton seun met n groooot glimlag.”

Nadine Barnard Cloete: “Jy het my so kwaad gemaak, maar ek weet jy is nou in ‘n beter plek. RIV. Groete, Juf Cloete”

David Niemann: “Lehan tjom! Jis ek onthou ons dae op die krieket en rugbyvelde! Jy was ‘n yster! Jy sal gemis word broer!”

Dirk Cloete: “I’m shocked. Was ‘n goeie, mooi jong man met goeie waardes en altyd uiters bedagsaam, respekvol en uitstekende leier. Innige meegevoel aan naasbestaandes.”

Susan Janse Alexander: “Bitterlike hartseer nuus.. skok is te groot, Newton & NK flank.. met die oulikste persoonlikheid.. rus sag Lehan, sterkte aan die familie.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article