Geen deurbraak is al gemaak, of verdagtes in hegtenis geneem ná die diefstal van drie lyke vanaf die perseel van ‘n private begrafnisondernemer in Kuruman nie.
Dié voorval het op Maandag 17 Maart om ongeveer 01:30 plaasgevind.
Twee onbekende manspersone het glo die wagkamer by die begrafnisondernemingsbesigheid binnegegaan.
In die wagkamer het hulle die sekuriteitswag aangerand, waarna hulle hom vasgebind en geblinddoek het.
Die verdagtes het glo kort daarna met drie lyke gevlug, sê sers. Merapelo Pilane, polisiewoordvoerder.
Die lyke is dié van twee volwasse mans en ‘n babadogtertjie. Hul identiteit is nie bekend gemaak nie.
Enige persoon met inligting oor hierdie voorval kan lt.kol. Doggy Magugu by 082 469 0578 bel, of die polisie se stop-misdaad-nommer by 08600 10111 skakel of die Mysaps App gebruik.
Alle inligting sal as vertroulik hanteer word, sê Pilane.
Die ondersoek duur voort.




