Wanneer Jesus sy dissipels leer bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood,” is dit nie net ‘n eenvoudige versoek vir brood op ons tafel nie, maar ‘n diep gebed van afhanklikheid, dankbaarheid en gedeelde verantwoordelikheid.
Die gebed bely dat elke stukkie brood uit God se hand kom. In ‘n land soos Suid-Afrika waar miljoene honger ly terwyl tonne kos daagliks weggegooi word, klink die woorde hard op. Om te bid vir “ons daaglikse brood” is om te erken dat God voorsien. Maar dan is dit nie net ‘n gebed om brood vir my tafel nie.
Die Onse Vader-gebed laat ons dink: Hoeveel onse is daar in jou pond? Dit laat ons verder kyk as net ons eie behoeftes, want sodra ons hom aanspreek as ons Vader en ons bid om ons brood, tree ons in die bresse vir ‘n wêreld sonder brood.
Die gaping tussen ryk en arm word groter. Daar is huise waar kos oorgenoeg is, en huise waar kinders sonder ontbyt skool toe gaan. Die onreg is nie net ‘n ekonomiese probleem nie − dit is ‘n geestelike toets vir die kerk.
In gebed gaan dit oor die broodporsie vir vandag, niks meer of minder nie. Oor dit wat ons vandag boodnodig het.
Die gebed leer ons wat in oorvloed het, ‘n eenvoudiger leefstyl waar ons leer om van God alleen afhanklik te wees en met medelye te leef teenoor hulle wat minder bevoorreg is. Ons kan nie waag om die gebed op ons lippe te neem as ons nie bereid is om die verantwoordelikheid waartoe dit ons bring, na te kom nie.
Dit herinner ons dat God genoeg gee. Dit nooi ons om dankbaar te leef, en hande en voete van Christus in ‘n honger wêreld te wees.
Mag ons elke keer dat ons bid “gee ons vandag ons daaglikse brood,” nie net dink aan ‘n eie tafel nie, maar ook aan die tafels wat leeg is − en gehoorsaam wees aan God se oproep om daardie tafels vol te maak.


