Persoon besig om 'n brief te skryf.
Sê jou sê in ‘n lesersbrief. Foto: Unsplash

Anoniem, Upington:

Die uiters teleurstellende gedrag van sommiges op ‘n vergadering van die Upington-tak van die Noord-Kaap Vigs Forum einde Maart in die Orange River Hotel in Extension waar die bestuursraad byna “geboelie” was, kan geen goedkeuring wegdra nie. Sulke “stoomroller-gedrag” het nie plek in ‘n beskaafde gemeenskap nie.

Die vergadering onder voorsitterskap van past. Herman Cook moes ‘n glansryke geleentheid wees, maar het in ‘n groot gemors geëindig.

Altesaam 60 lede is genooi, waarvan 30 verdienstelike sertifikate vir hul ondersteunende werk vir die forum ontvang het.

Die personeel wat ontevrede was met die bestuur van die kantoorhoof, Rudolph Saal, het waarskynlik agteraf met ‘n wyksraadslid gekonkel, ‘n groot getal gemeenskapslede gemobiliseer en die vergadering verwoes.

Die bestuur het die vergadering verdaag, met talle ontevredenes wat aangedring het dat ‘n nuwe bestuur onmiddellik verkies moes word.

‘n Mens van die departement van sosiale ontwikkeling het verklaar dat die bestuurslede die vergadering verlaat het, en ‘n nuwe bestuur is verkies. Dié is ‘n regeringsdepartement, wat poog om sosiale ontwikkelingskwessies op nasionale en plaaslike vlak aan te spreek.

Baie gemeenskapslede het hul misnoeë uitgespreek oor die onbeskaafde optrede van sommiges. Past. Cook het besluit om geen stappe te neem of ‘n verklaring rondom die gebeure uit te reik nie.

Hoewel die bestuur bewus was van die agteraf-organisasie van personeel, het hulle voortgegaan om die jaarvergadering te reël.

Spreuke 1:7 lees: “Kennis begin met eerbied vir die Here, net dwase verag wysheid en dissipline.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article