Kgosi Pelonomi Toto en Kallie Kriel.
Kgosi Pelonomi Toto en Kallie Kriel. FOTO: Verskaf

Lêhoenderprojek deur interkulturele vennootskap begin


’n Gesamentlike lêhoenderprojek is onlangs in Batlharos, hoofsetel van die Batlharo Ba Ga Motlhware-kultuurgemeenskap noord van Kuruman, van stapel gestuur.

Naas die verskaffing van ’n aanvangspakket wat Boschveldhoenderkuikens, ’n hoenderhok en toebehore insluit, is opleiding in hoenderboerdery aan gemeenskapslede gebied.

AfriForum en die Batlharo Ba Ga Motlhware-kultuurgemeenskap het ook op 18 Junie ’n wedersydse erkennings-en-samewerkingsooreenkoms onderteken.

Dié landbou-ontwikkelingsprojek word deur die Batlharo Ba Ga Motlhware Tradisionele Raad in samewerking met AfriForum en Saai aangepak.

Dit word deur middel van dié twee organisasies se landbou-ontwikkelings-inkubator, Resilient Regenerative Agricultural Initiative (Rrain) moontlik gemaak, en dien as uitvloeisel van die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San Leiers (NHTKL) se tweede jaarlikse Lenaka-gedenklesing wat in November 2025 in Batlharos gehou is.

Boschveldhoenderkuikens, ‘n hoenderhok en toebehore is aan die gemeenskap oorhandig. FOTO: Verskaf

Projek versterk voedselsekerheid

“Hierdie projek sal voedselsekerheid binne ons gemeenskap versterk deur toegang tot bekostigbare, proteïenryke kos te verbeter. Dit skep ook die geleentheid om kennis oor die landboubedryf op te doen en ’n volhoubare inkomste te verseker wat tot voordeel van ons gemeenskap aangewend kan word.

“Dit is vir ons ’n voorreg om met rolspelers saam te werk wat ’n positiewe verskil op voetsoolvlak wil maak,” sê Kgosi Pelonomi Toto van die Batlharo Ba Ga Motlhware en voorsitter van sy Tradisionele Raad.

ALSO READ: Opleidingskursus bemagtig kleinskaalse boere met beter boerderypraktyke

“Die jaarlikse Lenaka-lesing skep ’n platform om ons ryke erfenis te vier terwyl dit inklusiewe sosio-ekonomiese ontwikkeling binne tradisionele gemeenskappe bevorder. Ons benadering is om vennootskappe te versterk, institusionele kapasiteit te verbeter en geleenthede vir volhoubare groei te ontsluit. Dit is bemoedigend dat hierdie inisiatief weereens tot die vestiging van ’n projek gelei het wat die potensiaal het om ’n blywende en positiewe nalatenskap vir hierdie landelike gemeenskap te laat,” sê Kgosi Thabo Seatlholo, voorsitter van die NHTKL.

Rolspelers by die gesamentlike lêhoenderprojek wat in Batlharos begin is.
Rolspelers by die gesamentlike lêhoenderprojek wat in Batlharos begin is. FOTO: Verskaf

Kultuurgemeenskappe werk saam

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dit is ’n voorreg vir AfriForum om ’n vennoot van die Batlharo Ba Ga Motlhware en die NHTKL in hierdie inisiatief te wees.

“Dit dien as bewys dat ’n mooi toekoms vir die kinders van die land moontlik is wanneer kultuurgemeenskappe op grond van wedersydse erkenning en respek saamwerk om gemeenskappe in staat te stel om hul lewensomstandighede te verbeter en meer selfstandig te word. Ons is dankbaar vir die ondersteuning van KLK Landbou, wat die projek help moontlik maak.”

Kgosi Pelonomi Toto en Barend Uys. FOTO: Verskaf

“Voedselsekerheid in landelike gebiede bly ’n groot uitdaging. Die beste manier om dit aan te spreek, en ook terselfdertyd welvaart te skep, is om mense wat die wil en die potensiaal het met die regte ondersteuning in staat te stel om uiteindelik kommersieel te kan produseer. Ons is dankbaar vir die geleentheid om deel van hierdie projek te wees wat landelike gemeenskapslede help bemagtig om wanvoeding te bekamp en ’n lewensbestaan deur landbou te maak,” sê dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai.

“ ’n Mens kan maklik deur die groot uitdagings wat die land in die gesig staar lam gelê word en dan niks doen nie. Hierdie nederige projek wys egter dat gemeenskappe en leiers kan kies om saam te werk om die lewe op voetsoolvlak te verbeter.

“Die positiewe impak van elke klein projek tel op om uiteindelik ons samelewing oor die algemeen te verbeter. Ons hoop dat die voortgesette samewerking tussen verskillende kultuurgemeenskappe, waarvan dié projek die jongste voorbeeld is, ook ander rolspelers in die privaat- en openbare sektor sal inspireer om by volhoubare gemeenskapsontwikkeling betrokke te raak,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Opleiding in hoenderboerdery is aan gemeenskapslede gebied. FOTO: Verskaf
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article