Die Paasnaweek lê voor en ingelegde Kaap-Maleise kerrievis is ‘n eg Suid-Afrikaanse resep wat tradisioneel hierdie tyd van die jaar geniet word.
Die resep, in Engels as “pickled fish” bekend, is byna so gewild oor Paasfees soos “hot cross bun”-broodjies en Paaseiers.
Hiermee Tannie Fatima Kenny se resep:
Bestanddele:
- 15 stukke vis – verkieslik stokvis
- 6 tot 8 uie, geskil en in ringe gesny
- halwe koppie water
- 1 koppie asyn
- 5 lourierblare
- 1 teelepel peperkorrels
- 1 teelepel koljandersaadjies
- 2 eetlepels geroosterde masala, kerriepoeier of ingelegde vismasala
- 2 teelepels borrie
- sout vir smaak
- halwe koppie suiker
- 1 eetlepel meel gemeng met 1 eetlepel koue water
- 1 tot 2 eetlepels fyn appelkooskonfyt
- klein bietjie koekmeel om die vis te bedek
- olie om vis in te braai
Metode:
- Geur die vis met sout en borrie en week dit in die koekmeel.
- Braai die vis oor medium hitte in ‘n pan met olie vir so twee minute aan elke kant totdat dit gaar is en plaas eenkant in ‘n skoon bak.
- Kook water, asyn, lourierblare, peperkorrels, koljandersaad, masala, borrie en ‘n opgehoopte teelepel sout in ‘n groot pot oor hoë hitte.
- Sodra die mengsel kook, gooi die uie wat in ringe gesny is, in.
- Voeg die halwe koppie suiker by.
- Kook vir so agt minute oor medium hitte totdat al die geure lekker met die uie gemeng het.
- Gooi die meel-en-watermengsel by en roer totdat die sous dikker word.
- Wanneer die sous verdik, roer die appelkooskonfyt in.
- Haal die mengsel van die stoof af en gooi oor die gebakte vis.
Wenke:
- Moenie die uie te lank kook of gaarmaak nie. Die uie moet nog, soos Tannie Fatima sê “nog ‘n klein bietjie kraak hê”.
- Die suiker speel ‘n belangrike rol omdat dit die soet-suur smaak van die gereg uitbring, veral met die speserye wat gebruik is.
- Die resep werk gewoonlik die beste as dit vir so twee of drie dae in die yskas gelaat word sodat die geure in die vis kan intrek.
- Indien jy dit eers op Goeie Vrydag maak, kan meer water gebruik word. Indien dit langer voor Paasnaweek voorberei word, gebruik eerder ‘n bietjie meer asyn.
Bak saam met die heerlike kerrievis die Two-ingredient bread rolls





