KIMBERLEY – ‘n Omgewingspesialis, grondeienaars en ander kenners is onthuts oor misleidende stellings in ‘n media-verklaring waarin die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley beweer die stad se bekende flaminke, die “pienk trots”, terug is en dat Kamfersdam se water weer “suiwer is” en die “pan weer in ‘n pienk tapyt van flaminke verander het”.
In die betrokke amptelike plasing van verlede week word toeriste en fotograwe genooi om teen R50 toegang die “wonderwerk” by ‘n private onderneming, Flamingo View, langs die N12-roete en Kamfersdam te aanskou.
Dit kom nadat Kamfersdam die afgelope jare in die kollig was omdat die 70 000 kleinflaminke wat wetenskaplikes in 2019 getel het, en wat floreer het, weggetrek het. Kamfersdam het die afgelope jare oorvol geraak met meesal ongesuiwerde rioolwater. Dit weens die wanfunksionele Homevale-rioolaanleg wat massas ongesuiwerde rioolwater in die pan stort. Dié ongesuiwerde water het onder meer landbougrond en paaie verswelg en besoedel.

Die N12-roete en Transnet-spoorlyne word deur die massas water bedreig, en het op plekke oorspoel. Transnet was reeds genoop om sy Johannesburg-Kaapstad spoorlyn aan die oostekant te lig, ‘n spoorlyn wat weer eens bedreig word. Transnet is steeds besig met bouwerk van honderde miljoene rande om sy oorspoelde mangaanvrag-spoorlyn hier te lig, tot soveel as vyf meter op plekke. Twee jaar gelede het Transnet pompe aan die munisipaliteit geskenk om gesuiwerde water na ʼn ander pan te pomp.
Die N12-nasionale roete word ook bedreig met water wat weerskante van die pad opdam en groot watervoëls lok. Grondeienaars langs die pan is erg bekommer oor die stygende watermassa wat hul grond besoedel en verswelg.
LEES OOK: Riool-ramp by Kamfersdam dwing Transnet tot reddingsplan van miljoene rande
Rioolwater nie ‘skielik suiwerder’ nie
Besorgdes en kenners wat al jare navorsing oor die kleinflaminke op Kamfersdam doen en die beskerming van die flaminke se habitat bepleit, meen die munisipale stelling oor die “suiwer water” en “flaminke wat weer broei” is uiters misleidend.
Hulle voer aan onbehandelde rioolwater uit die wanfunksionele Homevale-aanleg langs die pan kan nie “skielik suiwerder” wees sonder ʼn grootskaalse ingryping nie, of dat die kleinflaminke weer broei of in hul derduisende sal terugkeer nie.

Intussen is die grondeienaar waarop ʼn groot gedeelte van die pan geleë is, Brenda Booth van Northern Cape Ranchers, radeloos.
“My huis wat hoog geleë is, word nou deur die stygende watermassa bedreig. Die rioolstank teen die suidwestelike kant waar die rioolaanleg is, is ondraaglik, en grondpaaie wat ek laat skraap het, is onder water.
“My plaas word al kleiner en kleiner weens die swellende watermassa, die watermassa het oor ‘n oppervlak van 400 hektaar tot 800 hektaar geswel en my weiding vir wild en vee word al minder en minder. Ek het 80% van my grondoppervlak verloor. Ek het vandeesweek weer ‘n regsbrief aan die munisipaliteit geskryf en geëis dat hulle onmiddellik optree. My vroeëre brief, net soos my telefoonoproepe, bly onbeantwoord.”
Booth het die munisipaliteit talle kere sedert 2024 hof toe gesleep om die wanfunksionele rioolaanleg op te knap. Regter Almé Stanton het die munisipaliteit se hantering van die rioolkrisis in die Kimberley-hooggeregshof as “verstommend”, “onverskillig” en “nalatig” bestempel. Die hof het bevind die munisipaliteit versuim sy grondwetlike pligte teenoor inwoners en het beveel die munisipaliteit moet dringend optree.
LEES OOK: Sol Plaatje ‘onverskillig, nalatig’ met rioolbesoedeling van Kamfersdam
Stadsbestuurder Thapelo Matlala is vroeër vanjaar gedwing om in die hof te getuig oor enige planne om die aanleg op te knap. Volgens Matlala het die Tesourie voorlopig sy aansoek van honderde miljoene rande goedgekeur om die wanfunksionele rioolaanlegte, waaronder Homevale en Beaconsfield, op te knap. Hy wag op ʼn finale antwoord.
‘Moenie wag vir ‘n ramp nie’
Ismael Gouws skryf op Facebook dat hy al meer as 30 jaar op ‘n plaas langs die pan woon, en erg bekommerd is.
“Ons behoort nie te wag vir ‘n ramp voordat daar opgetree word nie. Dit is onthutsend dat die spoorlyn en die N12 eers ernstige skade moet ly voordat ons groeiende kommer oor die watervlakke en watergehalte ernstig opgeneem word.
“Ek het nog nooit die watergehalte en watervlakke so sleg gesien soos wat dit nou is nie. Die stygende watervlakke bedreig die biodiversiteit en natuurlike omgewing, terwyl dit ook die paaie in gevaar stel waaroor ons moet ry om by die dorp te kom en ons kinders skool toe vat.
“Vir ons is hierdie paaie nie ‘n opsie nie, dit is ons lewenslyn. Ons bestaan, ons kinders se opvoeding en ons toegang tot noodsaaklike dienste hang daarvan af. Dié is ons tuiste, ons omgewing, ons lewensbestaan en ons kinders se toekoms. Ons het ‘n dringende ondersoek en daadwerklike betekenisvolle ingryping nodig voordat die skade onomkeerbaar word,” sê Gouws.
LEES OOK: Sol Plaatje in hof gepak oor riool, varswaterlekke in Kamfersdam
‘Feite ondersteun nie uitlatings nie’
Wetenskaplike feite ondersteun nie die munisipaliteit se optimistiese uitlatings nie, meen Ester van der Westhuizen-Coetzer, ‘n private omgewingskonsultant met ‘n meestersgraad in natuurwetenskappe wat Kamfersdam se flaminke al meer as tien jaar bestudeer. Sy het ‘n Owl Award van BirdLife South Africa vir haar uitstaande bydrae tot voëlbewaring ontvang.
“Ek moniteer die kleinflaminke op die pan die afgelope agt weke. Daar is hoogstens 5 000 volwasse voëls en jong voëls van ʼn jaar oud wat elders in Afrika uitgebroei het. Die volwasse voëls toon geen paringsgedrag nie, en die jong kuikens is nie geslagsryp nie. Die dam is so vol dat daar nie plek aan die oewers is vir neste, met geen beskikbare modder om die neste te bou nie.

“Kamfersdam se watervlak is op sy hoogste ooit, wat beteken die historiese broei-eiland is ook onder water. Die watergehalte uit die aanleg het geensins verbeter nie, daarom is die water aan die suidwestelike kant van die pan vol biomassa en die stank ondraaglik. Geen flaminke is daar naby te bespeur nie.
“Die water aan die noordelike kant waar die flaminke is, kan tydelik skoner wees omdat dit deur plante en riete filtreer het en beperkte algegroei bied waaraan die flaminke vreet.”
Sy sê betrokkenes is besig om met die departement van waterwese, Transnet en ander rolspelers te vergader om korttermyn oplossings te vind om die watervlak te laat sak om die druk op verskillende partye te verlig.
LEES OOK: Adjunkminister braak gal oor Sol Plaatje-munisipaliteit se ‘afjak’
‘Voorverkiesingspropaganda’
Tania Anderson wat jare gelede die Save the Flamingo-bewaringsgroep op die been gebring het, sê in haar Facebook-plasing “dit sou goed wees om ‘n foto van die flaminke op Kamfersdam te sien sodat ons kan vasstel of dit groot- of kleinflaminke is. Die kleinflaminke is gewoonlik meer volop. Hulle sal waarskynlik nie broei nie as daar nie modderoewers blootgelê is nie. Satellietbeelde toon riete bedek die meeste van die modderoewers. Tensy die super-El Niño ‘n vinnige daling in die watervlak in die volgende twee maande veroorsaak, sal hulle nie broei nie.”
Brian Culver, ‘n ywerige voëlkyker en fotograaf, het die aanspraak dat “flaminke terug is” as “propaganda afgemaak om kiesers voor die munisipale verkiesing te paai.”
Julius Koen, ʼn vorige waarnemende departementshoof by die plaaslike departement van omgewingsake, sê die flaminke “sal weer die pad vat sodra hulle nie meer alge in die water vind nie.”
Volgens sy plasing is die pan te vol water en te onsuiwer vir flaminke om Kimberley weer hul habitat te maak.
‘Spectacular return’
Dele van die mediaverklaring deur die Sol Plaatje-munisipaliteit is soos volg:
“Kimberley’s pink pride is back – lesser flamingos return to Kamfers Dam
“After a challenging period, our iconic lesser flamingos have made a spectacular return to Kamfers Dam, transforming the water into a breathtaking and rippling pink carpet.
“For decades, Kamfers Dam – north of Kimberley on the N12 – has been more than just Kamfers Dam. It is one of only four breeding sites in Africa for the near-threatened Lesser Flamingo.
“A story of hope
“Fact: Their return signals a significant improvement in water quality. Our pink visitors are feasting on their favourite delicacy with their heads upside-down in that classic flamingo style.
“Even more promising? Chicks are flying freely around, chirping and flapping — a hopeful sign that Kamfers Dam is on its way back to its glorious peak years of 55 000+ birds.
“This is not just a sighting. It is a comeback. Let us protect it. View responsibly, do not litter, and keep the noise low.”







You must be logged in to post a comment.