Die positiewe invloed van ‘n afgetrede musiekonderwyser van die Wes-Kaap, wat nou in Onseepkans in die verre Noord-Kaap woon, se besluit om inwoners van dié nedersetting aan musiekonderrig bloot te stel, is sigbaar in haar groeiende aantal musiekleerlinge, sowel as die totstandkoming van ‘n kamerkoor.
Nadat ‘n laerskoolseun van Onseepkans aan Maria Dhana gevra het wat ‘n klavier is, het sy die noodsaaklikheid besef om kinders hier aan musiek bloot te stel.
Sy het in Julie 2022 met klavierlesse vir twee leerlinge begin, waarvan dié laerskoolseun een was. Dhana het nou nege musiekleerlinge, en het ná ‘n vorige berig in NoordkaapBulletin musiekboeke ontvang, wat sy as ‘n groot seëning beskryf. Haar eerste twee leerlinge vorder baie goed, en voer solo’s en duette uit.

“Ek het ook met sopraanblokfluitleerlinge begin, en het een nuwe klavierleerling. My seun het twee op die tromme. Ek wag op tien blokfluite om nog te betrek. Al my musiekleerlinge het verlede jaar aan ons musiekgala-konsert deelgeneem, en so ook die kamerkoor.”
Die kamerkoor wat Dhana in 2023 begin het – sover vasgestel kan word, die eerste een in Onseepkans – het tien lede en sing gewyde liedere, ligte popmusiek tot bekende koorstukke.
Hulle neem op Saterdag 12 April aan die Choral Celebration Festival by die Hoërskool Upington deel, en het vir die ATKV Suidoosterfees-koorkompetisie op 4 Mei by Kunstekaap in Kaapstad ingeskryf.
“Ons befonds self ons optrede in Upington, maar het hulp nodig vir vervoer en verblyf na en in Kaapstad,” sê sy.
Die koorlede vertrek op Vrydag 2 Mei na Kaapstad, tree op Sondag op, en vertrek weer Maandag. Dhana noem dat kwotasies vir vervoer en verblyf direk deur moontlike borge betaal kan word.
Koordrag is ook op die lys van benodigdhede vir dié kamerkoor.
Kontak vir Doreen Hendricks, die skakelbeampte, by doreen@oskdevco.co.za of by 073 424 4740, of Dhana by mariadhana87@gmail.com of by 063 972 7162.







You must be logged in to post a comment.