Die jongste Rooymier ken nog net van dankie-sêgebede. Wanneer sy bid, hou sy haar een oog oop en sê vir alles dankie wat sy sien. Plus “ponies, rainbows en clouds”.
Oudste onthou om dankie te sê vir die nie-in-die-omtrek-goed soos vriende aan die einde van die dag waar hy met sy maats kon speel.
Vriende is inderdaad ‘n gawe. Vriende lag saam, troos en motiveer mekaar.
‘n Ware vriend is nie net ‘n mooiweersvriend nie, maar bly in die omtrek in moeilike tye. Danksy vriende het die Rooyouers ná ‘n maand se hardloop-en-koffie-kuiers ter voorbereiding aan hul eerste 5 km-pretdraf, die afgelope naweek deelgeneem.
Tydens die pretdraf het die dokter-drafmaat besef Rooyma se enkel is seer nog voordat Rooyma dit self besef het. Toe Rooyma verbaas besef haar drafvriendin is reg en vra hoe sy dit weet, antwoord die arts: “Hoe lank draf ons al saam?”
Vriende is daardie mense wat die waarheid ontbloot selfs al probeer ‘n Rooymens die waarheid verdoesel of ontken.
Vriende gee om. Dis hulle wat ‘n sneesdoekie deel wanneer onvoorsiene trane uitsypel of jou waarsku voordat die orkessimbaal gaan klink nadat hulle gesien het Rooyma wip van die skrik.
Onlangs het ‘n ander vriendin ‘n “lae suiker-noodpakkie” in Rooyma se hand gesit nadat ‘n lae suiker-oomblik Rooyma te moeg om te sing by ‘n begrafnis gelaat het.
Die Rooyouers was eers vriende voordat hulle voor die kansel gestaan het.
Rooypa se ondersteuning en omgee bly immers al 11 jaar deur dik en dun (letterlik en figuurlik).
Omdat die Rooyouers dieselfde belangstellings en waardes het, bly die vriendskap, al verdof die verliefdheid soms.
Aan jou vriende word jy geken. Vriende vorm mekaar. Vriende kan bou of breek. Geen wonder die Bybel moedig mense aan om hul kring-van-invloed wys te kies nie.
Lees nog rubrieke hier.




