“True happiness is to enjoy the present, without anxious dependence upon the future, not to amuse ourselves with either hopes or fears, but to rest satisfied with what we have, which is sufficient, for he that is so wants nothing. The greatest blessings of mankind are within us and within our reach. A wise man is content with his lot, whatever it may be, without wishing for what he has not.” − Seneca
Die laaste week kyk ek meer op my foon as gewoonlik. Wagtend vir die onvermydelike nuus. Nee, nuus is die verkeerde woord. Ek weet nie wat die woord moet wees nie. Sinonieme is tragedie.
Onregverdigheid. Wanbalans. Skreiend. Niks is werklik beskrywend genoeg nie.
Dat iemand se lewensuur minder word weens die gevreesde siekte. Iemand wat net goed vir almal is. Liefde en dankbaarheid uitstraal. Meer as enigiemand wat ek ken, net goed by haar huis en by haar werk is. Soveel vir familie en vriende en vir al wat mens is beteken.
Nog iets wat opkom, is hoekom en waarom dit sy moet wees. Hoekom nie die bedrieërs, die korruptes, die moordenaars, die leuenagtige arrogante politici wat hul eie mense vertrap nie. Ek wil siek word as hulle soos breëbors kaartmannetjies voor die kameras stap en so kastig uit hul maag lag vir iets wat nie snaaks is nie. Want hulle het die mag gekry deur die staat se geld te misbruik. Hoekom kan hulle nie van die aarde gewis word nie?
Sodat net mense wat werklik omgee vir die diere, die aarde en sy mense, agterbly.
Ek weet ons is nie net goed of sleg nie. Hoekom bly slegte mens leef? Watter goed is daarin? Maar laat ek nie my asem mors nie.
Die kers vir diegene wat te vroeg heengaan, sal in ons hart brand.
Vir ewig!



