“Rain is grace; rain is the sky descending to the earth; without rain, there would be no life.” – John Updike

Die aarde het gesug terwyl dit in ‘n geel-bruin kombers van droogte geklee was, ‘n kleed wat die landskap verwurg het. Die son se genadelose staar het selfs skaduwees verdryf. Die skape het skaars geblêr, die wind het stofwolke rondgedra. ‘n Onuitgesproke dors het in die lug gehang. Die gewag was ondraaglik.

Toe, soos ‘n fluistering, het die lug begin verander in die tweede week van Maart. Herfs het reën gebring. Gordyne het oor horisonne gesweef, die wind het ‘n koelte gebring wat lankal vergete was. Beswete gesigte is na bo gerig, die eerste druppels het geval. Groot en swaar trane van verligting. Die aarde het dit gulsig gesluk.

Nog. Nog. Nog.

Die reën was ‘n simfonie van verlossing. Soms sagte motreën, soms stortreën. Water het oor die dorre velde gestroom, krake gevul en die stof weggespoel. ‘n Aardse geur van nat grond het bedwelm.

Reën wat op die sinkdak plons, het soos musiek geklink, mens en dier het melodieë van hoop geneurie. Dit was donderweer en bliksemstrale. Lig en krag het die hemelruim verlig en droogte verjaag.

Die volgende oggend het die droogte gewyk, soos ‘n misdadiger verjaag. Die lug was skoon en helder, die aarde was nat en blink, en in die veld het ‘n mosaïek van groen gejuig. Kameeldoringbome is skoongewas, die voëls het baljaar.

Reën is nie net water nie; dit is hoop, ‘n nuwe begin, ‘n herlewing.

Reën is ‘n geskenk, ‘n seën, ‘n wonderwerk. Terwyl ons na die nat landskap kyk, besef ons die ware betekenis van dankbaarheid.

Dankbaarheid vir die water, vir die lewe, vir die verlossing van die reën.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article