Grosjean van Wyk, 'n junior elektriese tegnikus.
Grosjean van Wyk, ‘n junior elektriese tegnikus. FOTO: Verskaf

Jong gegradueerde leer praktiese vaardighede, ontvang blootstelling


Grosjean van Wyk, ‘n jong elektriese ingenieur van die Bergsig-gemeenskap naby Springbok, se verhaal is ‘n voorbeeld van hoe die regte vaardigheidsopleiding deure kan oopmaak en help om ‘n suksesvolle loopbaan te bou.

Deur ‘n tegniese vaardigheidsontwikkelingsinternskapprogram, gefinansier deur die Kangnas-windkragaanleg, het Van Wyk ‘n permanente pos as junior elektriese tegnikus by ‘n plaaslike ingenieursfirma bekom.

Met ‘n diploma in elektriese ingenieurswese aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) in Bloemfontein, het sy die hernubare-energiesektor betree.

Dit het sy gedoen deur die Suid-Afrikaanse Windenergie-vereniging (SAWEA) se wind-industrie-internskapprogram.

Dit is ‘n inisiatief ontwerp om jong gegradueerdes toe te rus met praktiese vaardighede en betekenisvolle blootstelling aan die bedryf.

Van Wyk bedank haar mentor vir tegniese leiding en aanmoediging, wat nodig is in dié veeleisende werksomgewing wat teen ‘n vinnige pas beweeg.

“My mentor het my uitgedaag om probleme op te los, konstruktiewe terugvoering gegee en my die ruimte gegun om uit my foute te leer. Daardie balans het my gehelp om te groei,” sê sy.

LEES OOK: Internskapprogram maak deur na loopbaan in hernubare energie oop

As junior elektriese tegnikus by BVI Consulting Engineers pas sy die vaardighede en kennis toe wat sy tydens die internskapprogram opgedoen het, insluitend die verwerking van teoretiese konsepte in praktiese oplossings; die ontwikkeling van noodsaaklike tegniese vaardighede; die bou van ‘n sterk professionele netwerk; en die verkryging van ‘n diepgaande begrip van bedryfstandaarde en -praktyke.

Internskap ‘n voorbereiding vir heeltydse werk

Dié grondslag ondersteun steeds haar groei en doeltreffendheid.

“Die oorgang van intern na heeltydse werknemer het natuurlik gevoel. Die internskap het my voorberei vir die druk en verwagtinge. Persoonlik was dit ‘n oomblik van verligting en bevestiging – ‘n bewys dat al die harde werk, laat nagte en opofferings die moeite werd was,” vertel sy.

Sy fokus nou op voortgesette professionele groei om binne die volgende vyf jaar by die Engineering Council of South Africa (Ecsa) te registreer.

Haar huidige rol stel haar steeds bloot aan ‘n diverse reeks projekte, plaaslik en internasionaal, wat haar kundigheid in die hernubare-energiesektor verder verbreed.

“Bly nuuskierig, wees positief en pak uitdagings aan. Bou ‘n sterk grondslag, soek mentorskap, en moenie bang wees om buite jou gemaksone te beweeg nie – dis waar werklike groei plaasvind,” is Van Wyk se boodskap.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article