Vroue in Minerva Gardens
Van die bejaardes in die saal by die Minerva Gardens-aftreeoord met die Moedersdag-geselligheid. FOTO: Verskaf

As deel van hul gemeenskapsprojekte vir Mnr. en Mej. Diamantveld, het twee leerlinge aan die Hoërskool Diamantveld in Kimberley bejaardes op Moedersdag by die Minerva Gardens-aftreeoord trakteer.

Sheri Smith en Nathan Baird het toegesien dat elkeen teenwoordig ‘n geskenkpakkie ontvang.

Ook inwoners wat nie die geleentheid kon bywoon nie, het so ‘n pakkie ontvang. Daarin was onder meer ‘n koffiebeker, gevul met allerhande lekkernye.

Die twee leerlinge het ook praatjies gelewer en die vroue is met kitaarspel en sang vermaak, gelewer deur Sheri en Lourens Scheffer, ‘n skoolvriend.

‘n Verrassingsgeskenk is ook uitgedeel aan die een wat ‘n plakker onder haar koffiebeker gevind het.

Dié geskenk was ‘n handgemaakte, gehekelde kombers, geskenk deur die breigroep van die aftreeoord.

Die bejaardes is ook trakteer op meer as genoeg kolwyntjies, toebroodjies, asook ‘n groot koek. Koffie, tee en cappuccino is ook voorgesit.

Pick n Pay, een van die borge van die projek, wat pakkies ter waarde van R3 000 geskenk het, het die bejaardes ingelig oor die aanlyn aankope platform.

Dit alles het plaasgevind rondom versierde tafels, en is deur 46 vroue (en twee mans) bygewoon.

Sheri en Nathan bedank Pick n Pay North Cape Mall en sy bestuurder vir die skenkings, hul teenwoordigheid en hulp; La-D-Da Lodge; Katjes Koffie; Lourens Scheffer; asook die oord vir die gebruik van die geriewe.

Die bejaardes is ook met kitaarspel en sang vermaak. Van links is Lourens Scheffer, Sheri Smith en Nathan Baird. Foto: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article