Die Jakes Gerwel-stigting, in samewerking met die Sentrum vir Kreatiewe Skryfkunde en Afrikatale, bied vanjaar van 14 tot 16 Oktober ‘n gratis werksessie vir ontluikende Afrikaanse skrywers, digters en dramaturge aan by die Sol Plaatje-universiteit (SPU) in Kimberley.
Dit bring verskeie gevestigde en gevierde skrywers, digters, dramaturge en dosente bymekaar om sessies oor skryfkuns aan te bied.
Die fokus van die projek is om nuwe skrywerstemme te ontdek en stories, gedigte en toneelstukke te ontwikkel wat die Suid-Afrikaanse letterkunde verryk. Veral word gesoek na verhale oor gemeenskappe wat nog nie voldoende oopgeskryf is nie.
‘Moenie belangrikheid van skrywers in die samelewing onderskat’
Dié geleentheid sluit aan by die breër visie van die Jakes Gerwel-stigting, wat gestig is ter herdenking aan wyle prof. Gert Johannes (Jakes) Gerwel. Die stigting is deur sy weduwee, Phoebe Gerwel, in die lewe geroep om sy erfenis en ideale, asook maatskaplike transformasie, te bevorder.
Die stigting fokus op openbare voordeelaktiwiteite soos die kuns, kultuur, onderwys en sport, asook die verligting van armoede en die bevordering van ‘n vrye, gelyke en inklusiewe samelewing.
As deel van sy jaarlikse projekte bied die stigting ook intensiewe mentorskapprogramme aan by Paulet Huis in KwaNojoli (voorheen Somerset-Oos) in die Oos-Kaap. Dit is Gerwel se historiese woning wat ná sy dood deur sy vrou aan die stigting geskenk is.
“Ons is ernstig oor die bevordering van die letterkunde, juis omdat ons die waarde van woorde besef,” sê Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel-stigting.
“Boeke kan genees, mense bymekaarbring en groter begrip vir mekaar skep. Die belangrikheid van skrywers in ons samelewing mag nooit onderskat word nie. Juis hierom gaan haal ons hulle nou ook in Kimberley.”
Die geleentheid is gemik op ontluikende skrywers en digters wat nog nie voorheen gepubliseer het nie.
Doen só aansoek
Belangstellendes moet teen 18 September ‘n kort skrywersbiografie, volledige kontakdetail, en een van die volgende aanstuur: óf vyf gedigte; óf een kortverhaal van sowat 2 000 woorde; óf ‘n hoofstuk uit ‘n roman; óf ‘n dramateks. Stuur dit per e-pos na theo@jgf.org.za.
Geen laat aansoeke sal aanvaar word nie. Geen individuele terugvoering oor die aard van die aansoeke word gelewer nie. Met ontluikend word bedoel dat die skrywer of digter nog nie voorheen gepubliseer het nie. Vir meer inligting oor die stigting se werk en projekte, besoek jgf.org.za.
LEES OOK: Oud-Kraaifonteiner wen Jan Rabie & Marjorie Wallace skrywersbeurs



