Die langverwagte oomblik het aangebreek! Ná maande van skryfwerk, beoordeling, mentorskap en openbare stemming het die FAK Skryf’it Liedjieskryfkompetisie 2026 uiteindelik sy wenner opgelewer.
Ma en dogter, Aniel en Milah Redelinghuys is op Donderdag 24 September as die wenners van Skryf’it aangewys tydens die Toeka tot Toekoms Erfenisdagfees by die Voortrekkermonument. Hulle wenlied, “Bittermooi Boland”, is deur hul ghoeroe, Andriette Norman gesing en is ‘n liefdesbrief aan die Boland, sy mense en sy landskappe.
Hierdie duetpaar kom van Wellington in die Wes-Kaap en die projek kombineer Aniel se jare lange ervaring as skrywer met Milah se passie vir sang en musiek. Aniel het die lirieke geskryf, terwyl Milah die toonsetting behartig het.
Aniel beskryf skryf as “skilder met woorde”, terwyl Milah FAK-Skryf’it sien as ’n waardevolle geleentheid om blootstelling in die musiekbedryf te verkry. Vir albei gaan die ervaring oor meer as bloot kompetisie; dit gaan oor leer, groei en die moed om hul kreatiewe werk met die publiek te deel.

Dié ma-en-dogter-span glo dat goeie liedjieskryf tegniese vaardigheid én emosionele eerlikheid vereis, en hoop om ander aspirant-liedjieskrywers aan te moedig om hul eie stories te vertel.
Dit was ook ‘n groot verrassing toe Vonk Musiek, die platemaatskappy wat Skryf’it borg, aangekondig het dat hy die ander vier finaliste se liedjies ook gaan opneem weens die uitsonderlike talent en gehalte van elkeen van die inskrywings.
Vanjaar het die kompetisie ’n rekordgetal van 1 091 inskrywings ontvang, byna dubbel soveel as die vorige jaar. FAK-Skryf’it bied opkomende Afrikaanse liedjieskrywers die geleentheid om hul werk aan gevestigde kunstenaars, die musiekbedryf en die publiek bekend te stel.
LEES OOK: Dié vyf liedjieskrywers ding mee om FAK-Skryf’it-titel, en jy kan stem
Volgens Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, is die aankondiging van die wenner die hoogtepunt van ’n proses waarin die krag van die Afrikaanse lied van die begin af sentraal gestel het.
“FAK-Skryf’it gaan uiteindelik oor die liedjie: die woorde, die storie, die melodie en die emosie wat dit by ’n luisteraar wakker maak. Om vanjaar se wenner uit meer as 1 000 inskrywings te sien ontwikkel tot ’n volwaardige produksie, is ’n besonderse bewys van die talent wat in ons gemeenskap bestaan,” sê Müller.
Van 1 091 inskrywings tot die wenpodium
Die pad na die finale was lank en veeleisend. Ná die aanvanklike beoordelingsproses is die sterkste liedjies geïdentifiseer en deur verskeie rondes van beoordeling en mentorskap geneem.
Beoordelaars het onder meer gekyk na die gehalte van lirieke, tematiek, melodie, refrein, musikale styl, genre, radiovriendelikheid en die algehele potensiaal van elke liedjie. Die kompetisie het vanjaar ook ’n unieke benadering tot kunsmatige intelligensie gevolg deur ’n onderskeid te tref tussen oorspronklike komposisies en liedjies waarin KI as musikale verwerkingshulpmiddel aangewend is.
Die vyf ghoeroes – Andriëtte Norman, William Wolf, Danie Reënwolf van Spoegwolf, John-Henry Opperman van Klopjag-faam en Ampie – het elk een liedjie gehad waarmee hulle kreatief gewerk het voordat dit uiteindelik tydens die finaal gesing is.




Die ander vier finaliste wat die eindrondte gehaal het, was Lienke Viljoen, Ruan Jordaan, Christiaan Louw en Coenie Naudé.
Viljoen se “Straatligte”, onder leiding van William Wolf, vertel ’n verhaal van verlies, herinnering, vergifnis en hoop. Jordaan se “Eens op ’n tyd”, deur Danie Reënwolf vertolk, is geïnspireer deur sy soeke na ware liefde en emosionele genesing. Christiaan Louw se “Huistoe”, vertolk deur John-Henry Opperman, ondersoek temas van identiteit, behoort en die besef dat sukses min beteken indien ’n mens van jouself vervreem raak. Coenie Naudé se “Geraas”, deur Ampie vertolk, gebruik humor en ligtheid om die innerlike uitdagings waarmee mense worstel, te verwoord.
Die publiek kon ook stem
Die publiek het van 18 tot 22 September die geleentheid gehad om vir hul gunstelingfinalis te stem. Die uitslag is tydens die FAK-Skryf’it-finaal op die Markplein bekend gemaak, waar die vyf ghoeroes en hul finaliste voor die Erfenisdagfees-gehoor opgetree het.
Volgens Müller strek die waarde van die kompetisie egter veel verder as die finale uitslag.
“Aniel en Milah Redelinghuys neem natuurlik die titel en die R25 000-prys huis toe, maar elke finalis het reeds iets besonders bereik. Hulle het hul werk aan ’n groot gehoor bekendgestel, saam met gevestigde kunstenaars gewerk en waardevolle ervaring opgedoen wat hulle verder in hul kreatiewe loopbane kan neem. Ons hoop FAK-Skryf’it vir baie van hierdie skrywers die begin van ’n lang en suksesvolle reis sal wees,” sê Müller.
Hy beklemtoon verder dat die groot aantal inskrywings ’n sterk boodskap oor die toekoms van Afrikaanse musiek uitstuur.
Die FAK-Skryf’it-kompetisie fokus nie bloot op die ontdekking van ’n enkele treffer nie, maar op die ontwikkeling van nuwe liedjieskrywers en die skep van ’n ruimte waar vars Afrikaanse stemme gehoor kan word.
Van die eerste inskrywing tot die finale optrede het FAK-Skryf’it 2026 getoon hoe menslike stories, kreatiwiteit en tegnologie saam ’n nuwe hoofstuk in Afrikaanse liedjieskryf kan vorm.
Met die aankondiging van die 2026-wenner kom vanjaar se kompetisie tot ’n einde. Vir die skrywers wat hul eerste groot tree op hierdie platform gegee het, begin die reis egter moontlik nou eers.







You must be logged in to post a comment.