Bloemfonteiner Nelmarie Albertse Oosthuysen is een van die tien top-finaliste in die FAK se Skryf’it-liedjieskryfkompetisie.
Haar liedjie, “Want jy is,” is ‘n KI-musikale verwerking en haar ghoeroe is Danie Reënwolf.

Dit was ’n verbete stryd oor die afgelope vyf stemrondes toe die publiek vir hul gunstelingliedjies uit die vier gekose liedjies van elk van die kompetisie se vyf ghoeroes of mentors gestem het. Die vyf ghoeroes is die bekende Afrikaanse musiekpersoonlikhede Andriëtte Norman, William Wolf, Danie Reënwolf du Toit van Spoegwolf, John-Henry Opperman van Klopjag-faam en Ampie. Die beste oorspronklike liedjie en beste KI-gesteunde liedjie vir elke ghoeroe is aangewys.
Hierdie tien liedjies ding nou om die gesogte FAK se Skryf’it-titel mee, met die publiek wat ’n deurslaggewende rol speel om te bepaal watter vyf liedjies na die finale ronde deurdring en watter lied uiteindelik as die wenner aangewys word.
Nelmarie is ‘n oud-Bloemfonteiner wat sowat 20 jaar in Port Elizabeth gewoon het. Sy het vier jaar gelede na haar geboortestad teruggekeer en haar kunsondernemings hier verder uitgebrei.
Dit is nie nou die eerste keer dat sy ‘n Afrikaanse liedjie skryf nie. “Ek skryf omdat ek nog altyd nuuskierig was – oor mense, oor emosies en oor hoekom ons voel soos ons voel. Ek wou sin maak van dinge wat nie altyd sin maak nie.”
Sy het al heelwat liedjies geskryf en haar liedjie “Rotsvas” is op 17 Julie deur die sangers Adam Tas en Liezel Pieters opgeneem en ‘n musiekvideo het op YouTube verskyn.
Die geleentheid om vir FAK-Skryf’it in te skryf het vir Nelmarie die geleentheid gebied om vir ander te laat hoor wat sy in woord en liriek vaslê. “Ek gebruik gereeld KI vir die uitvoering van my liedjies. Die lirieke en musiek is my eie, maar ek gebruik KI om dit wat ek in my kop het, tot uitvoering te bring.”
Sy sê dit is ‘n voorreg om met Danie te werk. “Dit was ‘n groot verrassing om saam met hom te kan werk. Ek kan nie wag om die finale weergawe van die liedjie Vrydag te hoor nie.”
Oor “Want jy is” sê sy sy het die eerste vers reeds op 13 Augustus 2015 geskryf. “Op 1 Januarie vanjaar was ek en my man op vakansie, toe ek weer daarna luister. Ons het voor die vuur gesit en kuier, en net daar het die inspirasie vir die tweede vers my getref.”
Sy sê die liedjie gaan in wese oor veerkragtigheid. “Die eerste vers is geskryf in ‘n tyd toe dinge moeilik was. Die tweede vers wys die hoop, veerkragtigheid en uitkoms. Vandag kan ons lag oor dit wat lank terug vir ons onmoontlik gevoel het. Jy kan altyd nog een tree gee,” sê sy.
Nelmarie se raad vir voornemende liedjieskrywers, is om nooit te wag vir perfeksie nie. “Dit kom nooit op die manier waarop jy dit verwag nie. Skryf dit rou, skryf dit eerlik, skryf dit selfs wanneer dit voel asof dit nie goed genoeg is nie. Want jou stem is nie te klein nie, en jou storie is nie te gewoon nie. Daar is iemand daar buite wat nodig het om presies dít te hoor.”
Die publiek kan van 28 Augustus tot 3 September vir die finaliste stem vir ’n plek in die top-vyf.







You must be logged in to post a comment.