John-Ross Henderson tydens ’n vorige hofverskyning.

Foto: Charné Kemp

John-Ross Henderson (38) wat onderskeidelik van moord en poging tot moord op Jayson Afrique en sy vrou, Michayla, aangekla word, het Woensdag 5 Maart ’n derde terugslag gekry nadat die hooggeregshof in Kimberley sy appèlaansoek teen die weiering van sy borgtog afgewys het.

Waarnemende regter T. Tyuthuza is nie oortuig dat Henderson niks sal doen om met die ondersoek in te meng en selfs streng borgtogvoorwaardes oortree nie.

Henderson word verdink dat hy vir Afrique doodgeskiet het, en Jayson se vrou in hul bakkie voor hul woonkompleks in Julie 2024 in Kimberley wou doodskiet. Die polisie het hom in September 2024 in hegtenis geneem.

In haar uitspraak het die regter bevind dat die twee landdroste wat Henderson se eerste borgtogaansoek in September en borgtogaansoek op nuwe feite in Desember verlede jaar afgewys het, nie in hul uitsprake fouteer het nie.

Die vuurwapen waarmee die moord gepleeg is, is steeds soek en kan weer gebruik word. Henderson weet ook wie die getuies is, en hy weet wat hulle doen en waarheen hulle verhuis het. Boonop is nog ’n verdagte soek.

‘Klagte van diefstal ‘n rookskerm’

Die staat voer aan die skieter het die egpaar eers agtergevolg voordat daar op hulle losgebrand is voordat hulle by hul woonkompleks wou inry.

Henderson se selfoon met sy vingerafdruk daarop is naby die egpaar se bakkie op die misdaadtoneel gevind. Die staat voer aan Henderson se klagte die volgende dag by die polisie dat sy foon by ’n vulstasiekafee verlore gegaan het, is ’n rookskerm.

John-Ross Henderson in die beskuldigdebank. Foto: Charné Kemp Credit: Foto; Charné Kemp

Terwyl hy in sy eerste aansoek net ’n verklaring ingedien het, het hy in die tweede aansoek getuig en openbaar hy was agterna op die toneel. Hy het ’n skets van die misdaadtoneel ingedien om te toon dit was nie afgesper nie.

Sy pa, Ross Henderson, het getuig dat hy met personeellede by die paneelklopper gepraat het waar die bakkie herstel is. Daar was glo aanboordkameras in die bakkie wat verwyder is, en skote is ook van binne die voertuig afgevuur. Die polisie se tydlyn van die gebeure is teenstrydig.

’n Polisielid het aan Henderson sr. genoem dat ’n kollega op die misdaadtoneel die selfoon opgetel het. Die regter het bevind dis ook hoorsêgetuienis wat nie gestaaf is nie. Henderson jr. is bekend met die polisie en prosedures.

‘Binnekennis’ stem regter onrustig

Dié binnekennis en voorneme “om alles uit te vind” stem die regter onrustig.

Die staat voer aan die bakkie is ballisties en forensies ondersoek voordat dit aan die familie teruggegee is. Daar was geen aanboordkameras in die bakkie nie. Geen skote is van binne die bakkie geskiet nie. Die selfoon is nie deur ’n polisielid opgetel nie.

Die ondersoekbeampte het uitgebreid getuig om te bewys die staat het ’n sterk saak. Tien skote is op die betrokke aand afgevuur waarin die oorledene ernstig in die rylaan voor hul woonkompleks gewond is.

Henderson, ’n voormalige polisielid met die nodige opleiding, is al voorheen aangekla van gewapende roof maar die betrokke verhoor is nog nie afgehandel nie.

Henderson het misluk om dwingende en wesenlike uitsonderlike persoonlike omstandighede te bewys wat sy borgtog regverdig, het die regter bevind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article