Griekwas-ondersteuners
Griekwa-ondersteuners Theuns Barnard (links) en Johan Scholtz. Foto: Charné Kemp

Die Griekwas-rugbyspan, vanjaar se Curriebeker-houers, is Sondag 21 September soos die kampioene wat hulle is deur Noord-Kapenaars in Kimberley by die Suzuki-stadion met ‘n gejil, gejuig, getoeter en gebrul van motorfietse begroet.

Mense, kinders en hul honde, sommige geklee in Griekwas-rugbytruie, het Poublou vlae geswaai en op en af gespring toe die twee busse met spelers en ondersteuners vanuit Johannesburg aangekom het. Die polisie, verkeerspolisie en motorfietsryers van CC Riders het hulle die stadion in begelei.

Griekwas verwelkom in Kimberley.
Lede en ampsdraers is van links: Arni van Rooyen (uitvoerende hoof Griekwaland-Wes Rugby-unie – GWRU), Cebo Dlamini (Griekwas-kaptein), Mangaliso Matika (LUR vir sport kuns en kultuur), Pieter Bergh (hoofafrigter), Monte Engelbrecht (GWRU-president), André Markgraaff (Griekwas-raadsvoorsitter), Tos Smith en Peet Smith (oud Griekwaspelers van die 1970-span) en Johan Myburgh (onderpresident). Foto: Charné Kemp

Kaptein Cebo Dlamini het met die reuse Curriebeker in sy arms gevou eerste uit die bus gespring, gevolg deur sy medespelers. Ondersteuners het om die bus gekloek om selfoonfoto’s en selfies te neem en handtekeninge veral van George Whitehead te bedel. Hy het Saterdag die strafskop in die doodsoomblik van die wedstryd oor die pale geklits om die wedstryd met 27–25 teen die Leeus in Ellispark te beklink.

Ook teenwoordig was Peet en Tos Smith, twee broers en lede van die Griekwas-span wat die eer as Curriebeker-kampioene 55 jaar gelede kon smaak. Griekwas het die beker in 1899, 1911 en 1970 verower.

Mangaliso Matika, LUR vir sport, kuns en kultuur het ook sy en die Noord-Kaapse regering se gelukwense en finansiële ondersteuning aan die span gebied.

André Markgraaff (links, Griekwas-raadsvoorsitter )en Pieter Berg (hoofafrigter), gee die Currie-beker aan Tos en Peet Smith, twee oud Griekwaspelers wat deel van die 1970-span was wat ook die beker verower het. Foto: Charné Kemp

‘Geweet ons het baie goeie kans om te wen’

Vir afrigter Pieter Bergh was Sondag se verwelkoming in die stad amper beter as Saterdagaand toe hy besef hulle het die beker verower.

“Ek het dit nie in my wildste drome verwag nie.”

Hy was Sondag steeds besig om meer as 300 selfoonboodskappe van gelukwensing te beantwoord.

“Toe ons in 2022 in die eindstryd teen die Pumas verloor het, was dit ‘n groot teleurstelling, maar die span het in hulself bly glo. Ons het geweet ons het ‘n baie goeie kans om te wen.”

Volgens Bergh sal geldelike hulp baie welkom wees. “Ons kan dan saans onder spreiligte speel, want dit skep ‘n wonderlike atmosfeer. Ons kan geld gebruik vir spelers of geriewe sodat dit nie weer 55 jaar neem om die beker huis toe te bring nie.”

Hy sê hulle ná hul nederlaag teen die Leeus twee weke gelede is ‘n nuwe speelplan opgestel.

“Ons het geglo dit sou werk. Die plan was om die teenstanders se voorspelers besig te hou en sag te maak sodat ons agterspelers van agter hard kon slaan. Ek het ook in die laaste oomblikke geweet ons sal wen, want George Whitehead mis nie ‘n skop nie.”

Phaldie Cader by Caleb Abrahams, Griekwa-skrumskakel, en dié se oupa Donald Ross. Cader en Ross is oud-skoolmaats wat ook in die 1970’s en ’80’s vir Griekwas gespeel het. Foto: Charné Kemp

‘Oorwinning was soet’

Arni van Rooyen, uitvoerende hoof, is oortuig dat die Griekwas deurentyd die oorhand gehad en beter as die Leeus gespeel het.

“Die boys gaan nie nou al rus nie, ek hoop ons kan met ‘n bus of trok die beker op ‘n toer deur die stad neem en vir almal wys,” sê Van Rooyen.

Monte Engelbrecht, Griekwas-president, was verheug oor die groot aantal Kimberliete en ander wat hulle verwelkom het. “Dit was ‘n informele geleentheid en ‘n aangename verrassing.”

Caleb Abrahams, Griekwa-skrumskakel, se oupa Donald Ross, oud Griekwa-speler, en Phaldie Cader, sy skoolmaat van die Hoërskool Floors en mede-Griekwasspeler, was ook daar om Abrahams en sy mede-kampioene geluk te wens.

Abrahams wat aan die Laerskool Newton en Grey-kollege skoolgegaan het, sê hul oorwinning was soet “hoewel dit nog nie ingesink het nie.”

Louis Bothma en sy seun, Louis, het van Bloemfontein gery om die Griekwas as Curriebeker kampioene te verwelkom. Louis jr, wat die Griekwas se bewonderaars-bladsy op Instagram bedryf, het onderhoude gedoen en foto’s geneem. Foto: Charné Kemp

Louis Bothma en sy seun, ook Louis, het van Bloemfontein gery om hul gunstelingspan geluk te wens. Louis sr. onthou hoe hy met die Curriebekereindstryd in 1970 waarin die Griekwas geseëvier het, ‘n duin in die Kalahari moes bestyg om op ‘n kortgolf-radiotoestel na die wedstryduitsending te luister.

“Ek is so bly my seun kon vanjaar dieselfde vreugde smaak.”

‘n Bus met ondersteuners het ook van Kimberley na die Goudstad gereis om hul span te ondersteun. Reggie Witbooi sê hulle het gehuil en gejuig. “Ek het my stem weg geskreeu. Dit was wonderlik om ons span te ondersteun, wat ek doen sedert ek in 2014 na Kimberley verhuis het.”

Nog ‘n trotse ondersteuner, Cecil Booysen, sê die Leeus-ondersteuners was nie “baie vriendelik toe die Kwaste wen nie. Ons was min, seker net 50 mense teenoor hulle duisende ondersteuners. Dit was ‘n groot voorreg om in Johannesburg te wees en die trophy te vat. Ons het veggees getoon tot in die 79ste minuut, net voor ons gewen het.”

Griekwas-ondersteuners maal om George Whitehead, Griekwas-vleuel, om foto’s van en saam met hom te neem, en sy handtekening te kry. Foto: Charné Kemp

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article