Geldinspuiting verwelkom vir Kimberley se siek sanitasie-infrastruktuur

Die een besinkingsdam.
‘n Besinkingsdam in onbruik by die wanfunksionele Homevale-watersuiweringsaanleg. FOTO: Charné Kemp

Geldinspuiting verwelkom vir Kimberley se siek sanitasie-infrastruktuur

Die een besinkingsdam.
‘n Besinkingsdam in onbruik by die wanfunksionele Homevale-watersuiweringsaanleg. FOTO: Charné Kemp

KIMBERLEY – Die grootskaalse herstelwerk aan die Sol Plaatje-munisipaliteit se wankelende sanitasie-infrastruktuur ná die Tesourie-toekenning van R608 623 miljoen sal eers ‘n beplanningsfase ingaan.

Mees kritiese probleme soos die wanfunksionele Homevale- en Beaconsfield-rioolaanleg sal dringend opgradeer word.

So sê Thapelo Matlala, stadsbestuurder. Hy is verlig oor die Tesourie se besluit om die Begrotingsfasiliteit vir Infrastruktuur (BFI) aan die munisipaliteit toe te ken nadat voorlopige goedkeuring vir die projek meer as ’n jaar gelede gegee is om die stad se sanitasie-infrastruktuur te herstel en te verbeter.

“Ons sal in die volgende maande die ontwerpbeplanning doen, maar ons grootste fokus is die noodherstelwerk aan die rioolaanlegte. Die plan behoort voor die einde van die jaar opgestel te wees.”

Die uitvoerende burgemeester, Martha Bartlett, het die toekenning verwelkom.

In ‘n mediaverklaring van 22 Oktober beskryf Bartlett die geld as ‘n “historiese” stap en ‘n belangrike mylpaal in die munisipaliteit se pogings om kritieke infrastruktuurbehoeftes aan te pak, sanitasie-agterstande te verminder en inwoners se lewensgehalte te verbeter.

LEES OOK: Kimberley-rioolkrisis: Openbare proses agterweë vir nuwe Roodepan-woonbuurt

Burgemeester erken ‘verantwoordelikheid’ van belegging

Volgens haar bied die geld ‘n kans om sanitasiedienste te versnel, openbare gesondheid te beskerm en lewensomstandighede te verbeter.

“Dit benadruk die belangrikheid van aanhoudende belegging in plaaslike regering se infrastruktuur en samewerking tussen nasionale, provinsiale en plaaslike regering.”

Bartlett waarsku die belegging sal uiteindelik beoordeel word aan die uitwerking wat dit op inwoners het.

“Ons verwelkom die belegging en erken die verantwoordelikheid om dit in tasbare en blywende voordele vir ons gemeenskappe te omskep.”

LEES OOK: Miljoene bestee terwyl rou riool veld instroom: ‘Gogga-ramp’ is mensgemaak

Sy sê die geld moet gepaard gaan met doeltreffende beplanning, toepaslike tegniese kapasiteit, gesonde finansiële bestuur en streng projektoesig, sodat projekte volgens goedgekeurde doelwitte en regeringsvereistes uitgevoer word.

“Noue samewerking met die betrokke nasionale en provinsiale departemente is noodsaaklik om die inwerkingstelling te ondersteun en struikelblokke vroegtydig uit die weg te ruim.”

Alle belanghebbendes, onder meer staatsdepartemente, munisipale amptenare, implementeringsagente, kontrakteurs en gemeenskapstrukture, moet saamwerk sodat die geld tot meetbare verbeteringe in sanitasiedienste lei.

“Die munisipaliteit moet implementering met dringendheid, verantwoordbaarheid en ‘n duidelike fokus op resultate benader,” sê sy. “Projekte moet deurlopend gemonitor word en uitdagings betyds opgelos word om onnodige vertragings te voorkom.”

Deursigtige kommunikasie, gereelde vorderingsverslae en belanghebbendes se betrokkenheid is deel van die proses.

LEES OOK: Riool-ramp by Kamfersdam dwing Transnet tot reddingsplan van miljoene rande

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article