Waarskynlik een van die grootste landskapkunswerke van die Suid-Afrikaanse landskapkunstenaar Anni Snyman behoort teen vroeg Oktober in die Kalahari-landskap by Van Zylsrus in die Noord-Kaap te pryk.
Dié aasvoëllandmerk wat as landskapkuns geregistreer sal word en op onder meer Google Earth sigbaar sal wees, gaan glo ‘n vlerkspan van ongeveer 400m hê.
Die kunswerk het ten doel om aasvoëlbewaring te ondersteun, en word gelyklopend met die eerste kunsweek in dié verafgeleë Noord-Kaapse dorp uitgevoer.
Kunsweek eerste in sy soort
Intussen kan besoekers hulself op verskeie maniere skeppend by die kunsweek, die eerste in sy soort, besig hou.
Tydens die kunsweek wil Pieter Pienaar, afgetrede kunsonderwyser en kunstenaar, en sy kunsvennote diegene wat van kuns en die Kalahari hou, aan die Van Zylsrus-gemeenskap voorstel. Hiertydens word kuns, die Kalahari-natuurskoon en gasvryheid kombineer.
Plaaslike inwoners, asook enige besoeker, word deur ‘n “mini-kunsskool” betrek waartydens hulle vir ‘n paar dae les ontvang.
Kunstenaars, fotograwe, musikante, digitale skeppers en ander skeppendes word ook genooi om skeppend in die Kalahari te wees. Hierdie deelnemers betaal nie vir die kunskursus nie, slegs vir hul verblyf en etes. Hulle kan egter onder meer die duine, veld of dorpstrate invaar en hul skeppende projek uitvoer.
Pienaar sê die terrein waar Snyman en haar span die landskapkunswerk wil uitvoer, is reeds toegeken. Hulle gaan binnekort Van Zylsrus besoek om verdere beplanning te doen.
On the Beat Communications, van Balfour Lekgwathi, het ook belangstelling by die kunsweek aangedui.
Pienaar is stigterslid van die kunste-gebaseerde onderneming Bridge Co-Creators, wat hy saam met ‘n kunskollega, Carol Preston, bedryf. Albei is oortuig dat uitlewing in kuns ‘n mens se lewe kan verander, en dat nuwe motivering en ontdekking van eie talente só gevind word.
Pienaar beklemtoon dat dié kunsbelewenis in Van Zylsrus nie ‘n kunsfees is nie, maar ‘n kunsweek waartydens die klem daarop is om kuns in die Kalahari te skep.
Besoekers kan verblyf in die plaaslike hotel, gastehuise, of op omliggende plase bespreek.
“Daar is nog baie dinkwerk oor voor die plaasvind daarvan in Oktober,” sê Pienaar. Hy vra dat enige belangstellendes hom kontak.
- Die presiese datum sal later bekend gemaak word.
- Skryf aan pieter.abraham@gmail.com, of skakel 083 585 3512.






