Debbie en Dirk Conradie was vanjaar die algehele wenners van die Bull Run.
Debbie en Dirk Conradie was vanjaar die algehele wenners van die Bull Run. FOTO: Lientjie Mentz

Conradies se 1976-Datsun stof almal uit op Van Wyksvlei se Bull Run

Debbie en Dirk Conradie was vanjaar die algehele wenners van die Bull Run.
Debbie en Dirk Conradie was vanjaar die algehele wenners van die Bull Run. FOTO: Lientjie Mentz

BLOEMFONTEIN – Van groentjies, tot die wenners van die Bull Run vir 2026.

Debbie en Dirk Conradie, twee Bloemfonteinse deelnemers aan die tydskrif Weg Ry & Sleep se jaarlikse Bull Run op Van Wyksvlei in die Noord-Kaap, is vanjaar as die wenners aangewys.

Wendy (die pop), Dirk en Debbie Conradie
Wendy (die pop) saam met Dirk en Debbie Conradie met die Bull Run-trofee. Elke jaar se wenners moet ‘n nuwe deel aan die trofee vasswys. FOTO: Lientjie Mentz

Hulle het weer deelgeneem in hul 1976-Datsun 14Y, met die naam Lappe, wat Dirk verlede jaar opgebou het.

“Verlede jaar toe ons wegspring hier uit Bloemfontein, was dit die eerste keer dat ek met Lappe gery het,” vertel Dirk.

“Intussen het ons hier en daar ‘n bietjie aan die kar gewerk, maar ek het die kar dié slag baie beter geken. Die affair het mooi gegroei. Ons ken nou alles van mekaar.”

Debbie sê sy het maar net die “spanners” aangegee. Dirk moes vir haar ‘n ekstra vasouplek voor op die “dashbord” aanbring vir wanneer dinge woes op die pan gaan.

Dirk Conradie ry op ‘n baan by die dorp in hul Datsun, Lappe. VIDEO: Verskaf

‘Dit is soos grootmensmatriekvakansie’

Die Bull Run, waaraan vanjaar sowat 200 motors deelgeneem het, het van 1 tot 4 Oktober plaasgevind. Deelnemers se motors moet dateer uit die tydperk voor Desember 1986 (40 jaar) en moet nie meer as R50 000 werd wees nie.

Danksy die aanwysing van die 3D-span (Debbie, Dirk, Datsun) en Wendy – die pop op die agterste sitplek – as die beste groentjies verlede jaar, het hulle outomaties weer ‘n inskrywing gekry vir vanjaar.

LEES OOK: Bloemfontein se 3D’s laat ander spanne in die stof byt op Van Wyksvlei

Deelnemers neem oor die vier dae aan drie verskillende uitdagings deel om die motors daar op die wye pan tot die uiterste te toets – en die deelnemers se vindingrykheid na vore te bring.

Debbie sê die Bull Run is een groot plesier.

“Dit is soos grootmensmatriekvakansie. Selfs nog op pad na Van Wyksvlei, ry deelnemers so kuier-kuier.”

“Daar aangekom, is dit net een heerlike atmosfeer. Natuurlik het Engel, ons yskassie, weer sy werk gedoen daar agter in Lappe langs Wendy. ‘n Mens moet altyd iets koels naby hê in ‘n plek soos Van Wyksvlei.”

Die 3D's het elke dag ander spandrag aangehad
Die 3D’s het elke dag ander spandrag aangehad. Hier is Dirk en Debbie Conradie. FOTO: Verskaf

Debbie sê Wendy is nou ‘n absolute “celebrity” op die Bull Run.

“Sy lê al lank hier by ons, maar haar arms was weg. Toe bel die vorige eienaar my eendag en sê hy het die arms gekry. Wendy het nie ‘n gesiggie gehad nie, toe teken Belinda van Zee vir haar ‘n gesiggie. Nou ry sy alte lekker saam in die Datsun.”

Die Bull Run is nie net groot pret nie, dit bied ook ‘n welkome inkomste vir die gemeenskap in die Noord-Kaap.

“Die Bull Run gee baie terug in die gemeenskap. Dit is die een tyd in die jaar dat daar sommer baie aktiwiteit in die dorp is.”

Reg vir aksie op die pan. VIDEO: Verskaf

Debbie sê ‘n polisieman het vir Dirkie in die dorp voorgekeer.

“Gooi daar vir ons ‘n dougnut, sê hy toe vir ons. Wat kon ons doen? ‘n Mens moet mos wetsgehoorsaam wees.”

Die twee sê hulle gaan beslis nie sommer die Bull Run mis nie. Al moes hulle vanjaar, weens goeie reënval in die pan, hul seun se voorstelling in die kerk misloop… Hulle het dit darem op die foon gevolg.

“Dis nie elke dag dat ek kerk in ‘n kroeg kyk nie,” sê Dirk.

Die Bull Run kan maar weet, die 3D’s en Wendy sien sommer baie uit na volgende jaar.

Lees meer oor die Bull Run hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article