Twee maande nadat Karen du Plessis ‘n dubbele longoorplanting ondergaan het, gaan dit sommer baie goed met dié onderwyseres van die Laerskool Grey-kollege.
Karen en haar suster, Elenor van Heerden moes Vrydag 31 Julie in Kaapstad wees nadat sy die vorige dag ‘n oproep gekry het dat die longe waarop sy reeds sedert Januarie gewag het, oorgeplant kan word.
LEES OOK: Karen kry nuwe longe in die Kaap.
Sy bly nou in ‘n vriendin se vakansiehuis in Gordonsbaai waar sy kan stap en in die tuin kan “vroetel”.
Nadat sy vir nege weke ná die operasie elke week ‘n opvolgondersoek moes ondergaan, is dit nou net elke tweede week. “My bloedtoetse, X-strale en longfunksie word dan gedoen en medikasie word gekontroleer en aangepas indien nodig. Ek hoop om Desember terug in Bloem te wees, want ek verlang na my kinders en diere.”
Karen sê nog ‘n groot seën lê vir haar voor. “Ek word weer ouma van ‘n dogtertjie, ek kan dit nie mis nie.”
Sy sê die gereelde ondersoeke is baie positief. “Dit is fantasties dat my longe nog geen teken van verwerping gewys het nie. My laaste longfunksie het 82% gewys” sê Karen.
Sy is gebore met ‘n toestand genaamd primêre siliêre diskenese en haar longfunksie het teen verlede jaar so versleg, dat sy begin van die jaar op die orgaanoonontvangerslys geplaas is.
LEES OOK: Kinders gee vir juffrou Karen van Grey krag terwyl sy wag vir nuwe longe.
Sy sê sy is so bly dat die lang wag en stres verby is en dat alles goed gegaan het met die oorplanging.
“Hoop, genade, liefde en gebed omsingel my elke dag en die ondersteuning van familie, vriende, kollegas en my selgroep is sigbaar in my lewe elke dag en dit maak my ‘n oorwinnaar in Jesus se Naam.”




