Diablo Bock, ‘n beskeie en briljante matriekleerder aan die Hoërskool Saul Damon in Upington, het te midde van moeilike omstandighede die kruin van die golf met harde werk en ‘n onwrikbare wil na sukses bereik.
Dié 18-jarige jongman is as sy skool se dux-leerder aangewys met onderskeidings in Afrikaans, Engels, wiskunde, natuur-en skeikunde, lewenswetenskap en lewensoriëntering.

Diablo gaan vanjaar sy studie in siviele ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria (UP) begin.
“My pad na sukses was nie maklik nie, maar deur dit alles het ek baie hoop en selfvertroue gekry wat my in staat gestel het om aan die einde van die jaar suksesvol te wees,” vertel hy.
Diablo het ‘n gemiddeld van 81,4% in 2025 se matriekeindeksamen behaal. Sy sukses skryf hy toe aan baie nagte se studie en die ondersteuning wat hy van sy ouers en onderwysers gekry het. Hy sê vir die jeug is die uitdagings oorweldigend, en hy wil op geen manier na ‘n donker toekoms kyk nie.
“My strewe is na ‘n lewe van uitnemendheid en geluk,” sê hy. Hy is die seun van Errol Kella en Beverly Bock van Upington, en het drie sussies en ‘n boetie wat nog skoolgaan.
“Ek wil ‘n aansporing vir hulle wees. Hulle moet na my suksesverhaal op skool kyk,” sê hy.
‘n Inskrywing op die skool se Facebook-blad lui soos volg: “Your story uplifts us. Your achievement inspires us. Your future is bright, and we are proud to have walked this part of the journey with you. Congratulations, Diablo Bock. You are proof that hope rises.”
Nog ‘n inskrywing lees: “Congrats young man. We are super proud of you and your achievements. Enjoy. Gods blessings op your future and future plans, family, friends and everyone who supported you through this yourney. And neva forget your roots.”
“Baie geluk Boeta… Mag jy altyd dai pragtige glimlag en mooi gesindheid behou… Alle seeninge op jou pad vorentoe,” lees nog ‘n inskrywing, en nog ‘n inwoners skryf: “Baie wel gedaan jongman. Jy is n inspirasie vir ons jeug. Ek hoop Saul Damon hang n groot plakkaat van jou in die gang.”
Die skool het ‘n slaagsyfer van 92,4% behaal.
LEES OOK: Noord-Kaap se matriekuitslae toon grootste verbetering; klim van 9de na 6de posisie





You must be logged in to post a comment.