Barney, oftewel George Peters, vermeende bendeleier en een van 17 aangeklaagdes wat op meer as 100 aanklagte van onder meer rampokkery en moord tereg staan, het op Woensdag 26 Maart sy lot teenoor die regter bekla en gesê hy “kan nie meer die pyn vat, ek wil liewers doodgaan”, as om na die “opgemaakte stories” van getuies in die hof te sit en luister.
Peters (32) het skaars ’n dag of drie in die verhoor in die hooggeregshof in Kimberley en kort nadat die eerste getuie oor ’n voorval by die Roodepan-polisiekantoor getuig het, sy regsverteenwoordiger van Regshulp Suid-Afrika (SA) in die pad gesteek omdat hy nie “na my instruksies luister nie.”
Peters se mede-aangeklaagdes is Britney Arends, Stephanie Mcanda, Simone Rose, Chinaaz Mentoor, Abagail van Wyk, Chane Adams, Micheal Peters, Clive Peters, Deon May, Parmeston Mentoor, Henry Blom, Thabo Sekapano, Vincent Rosen, Tshepo Malambi, Nico Hofuza, en Shawn Smith. Van hulle is Peters se broers, houvroue (sister-wives) en vermeende makkers. Drie van hulle is op borgtog vrygelaat.
Hulle word gesamentlik of afsonderlik verdink dat hulle by etlike bendeverwante voorvalle vanaf Augustus 2020 tot Februarie 2023 in Kimberley en Kuruman betrokke was. Hulle het glo geld uit dwelmhandel gemaak. Die vroue is glo as dwelmmuile gebruik.
Afgeraai om eie hofsaak te hanteer
Die saak is van verlede week tot vandeesweek verdaag sodat Peters ʼn ander Regshulp SA verteenwoordiger kan spreek om hom te verteenwoordig, maar hy het die aanbod geweier en Woensdag gesê hy gaan homself verteenwoordig.
Regter Almé Stanton het hom afgeraai en gesê hy moet sy besluit ter wille van homself en geregtigheid heroorweeg.
Peters, wat tydens ʼn verdaging aan joernaliste gesê het hy het meer as 30 kinders, het steeds geweier.
“Ek sit onskuldig in die tronk. My kinders ly. Hulle kan nie skool toe gaan nie, want ander kinders gooi lelike woorde na hulle toe, soos dat hulle pa ʼn moordenaar is. Ek voel eerder om dood te gaan. Ek kan nie na die opgemaakte vals stories van getuies luister nie. Ek wil myself verskoon.”
Barney George Peters
Regter Stanton het verduidelik hy kan homself nie van sy verhoor verskoon nie.
Die staat gaan sy getuienis voorlê, maar Peters kan deur sy regsverteenwoordiger die getuies kruisondervra en hul weergawes betwis. Aan die einde van die staat se saak kan hy getuig en ook getuies roep. Later kan hy sy saak in sy betoog aan die regter stel.

Konflik oor tydsduur, regsverteenwoordigers
Dit blyk uit een van Peters se antwoorde dat hy en van sy medebeskuldigdes mekaar byna te lyf gegaan het oor die kwessie van regsverteenwoordigers en die verwagte lang tydsduur van die verhoor.
“Hoekom moet ek na 115 getuies luister? Ek wil eerder by die huis by my familie wees. Hulle suffer, want ek is al lank in hegtenis.”
Hierop het die regter hom daarop gewys dat sy optrede om sy regsverteenwoordiger af te dank reeds die verhoor met etlike dae vertraag het.
“Maar sê net wat ek verkeerd gedoen het, die ondersoekbeampte kan nie stories oor my opmaak nie,” het hy gesê.

Hy is toe gewaarsku om nie in die meriete van die saak te praat nie, maar aan die regter te sê of hy ʼn regsverteenwoordiger gaan aanstel, en of hy homself gaan verteenwoordig.
“Ek is nie bekend met hofprosesse nie, ek is confused,” het hy erken. “Dit is ʼn groot saak, dit is moorde, mense wat doodgemaak is.”
“Juis, dis 117 aanklagte, daarom gaan dit uiters uitdagend vir jou wees om jou eie verdediging te lei,” het Stanton geantwoord.

“Ek is ʼn eenvoudige mens, wat in demokrasie glo. Maar ek wil nie na 115 getuies luister wat vals statements maak nie.”
“Jy herhaal jouself,” het die regter geantwoord. “Ek wil weet of jy ʼn regsverteenwoordiger aanstel of nie.”
Ná nog ʼn verdaging het Peters aan die regter vertel hy is in pyn en “kort lelike operasies”.
Die regter het hom meegedeel dat die voorgestelde nuwe regshulpverteenwoordiger, wat Afrikaans magtig is, hom Donderdag sal spreek. Op Vrydag 28 Oktober het Peters besluit om van die voorgestelde regsverteenwoordiger te gebruik.
Die verhoor is tot 5 Oktober uitgestel.
‘Property of Barney’ ‘n ‘verskrikking’
Met ‘n vorige hofverskyning van dié aangeklaagdes het ‘n gemeenskapslid buite die hof gesê hulle voel veiliger en is verlig dat die meerderheid van beskuldigdes in aanhouding is nadat hul onderskeie borgtogaansoeke misluk het.
“Ek sê jou, hulle was ‘n verskrikking. Daai vroue van Barney kom almal uit goeie huise, kinders met ‘n goeie opvoeding,” het ‘n vrou vertel.
Tydens vorige hofverskynings was die getatoeërde woorde “Property of Barney” op die vroulike beskuldigdes se voorkoppe, gesigte en arms sigbaar. Op dié betrokke dag in die hof was hulle of swaar gegrimeer of het lang hare hul voorkoppe of klere hul arms bedek.
Na verwagting kan dié saak tot vier jaar duur. Die dossier alleen beslaan 3 400 bladsye.






You must be logged in to post a comment.