In die verhoor in die hooggeregshof in Kimberley van die weermaglid wat steeds in diens van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is en wat saam met ‘n vriend tereg staan op ‘n aanklag van moord op ‘n vriend van sy seun, ontken dat hy sy selfoon tydens die misdryf afgeskakel het.
Dié getuienis is Maandag 31 Maart aangehoor in die verhoor van Mzumanzi Zwakala, wat op borgtog vrygelaat is, en David Kangombe, wat in aanhouding is.
Albei word van die voorbedagte moord van Amogelang Assegaai in Verwoerdpark, Kimberley, aangekla, en Kangombe ook van regsverydeling.
Die voorval het op 23 Oktober 2022 plaasgevind. Assegaai, toe ‘n gr. 12-leerling aan die Kimberley Boys’ High School, is voor sy ouerhuis in Verwoerdpark doodgeskiet.
Hy is na bewering oor ‘n geskil oor ‘n verlore selfoon geskiet. Die koeël het sy long en aorta deurboor.
Analis bestudeer selfoongebruik
Lt. kol Hanlie Conradie, ‘n selfoongebruik-analis by die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, het Maandag getuig dat sy die betrokkenes, asook Zwakala se vrou en seun se selfoongebruik vooraf, ten tyde en ná die voorval bestudeer het.
Zwakala se selfoon het die betrokke aand teen 18:06 op ‘n selfoontoring in Rhodesdene geregistreer, toe in Kutlwanong, en later weer in Rhodesdene, waarna dit teen 20:12 afgeskakel is. Toe dit weer om 22:12 aangeskakel is, het dit in Kutlwanong registreer.
In kruisondervraging van adv. Sakkie Nel, namens Zwakala, het Conradie ontken dat die foon aangeskakel kon wees, maar geen aktiwiteite getoon het nie.
Vroeër die aand het Assegaai en Zwakala telefonies met mekaar kommunikeer voordat laasgenoemde se foon afgeskakel is. Zwakala en Kangombe het ook van 19:36 af met mekaar kommunikeer en toe weer ná 22:14, asook verskeie kere die dag daarna.

Selfoon raak verlore tydens partytjie
Die staat voer aan dat Zwakala se seun, Kamva Zwakala, op 21 Oktober 2022 by ‘n partytjie by Assegaai se huis was. Gedurende die aand het ‘n onderonsie ontstaan waarin Kamva glo beseer en sy selfoon vermis geraak het. Kamva het op 22 Oktober ‘n klagte by die polisie oor sy verlore selfoon ingedien.
Daardie Sondag, op 23 Oktober, het die seun, die twee beskuldigdes en nog mense in Zwakala se groen Cressida-voertuig na die Assegaai-huis gegaan. Kangombe het die voertuig glo elke keer bestuur.
Toe hulle in die betrokke straat kom, was Zwakala glo woedend.
Hy het aan die bure gebulder “die hele Kimberley ken hom, hy sal die stad klein maak en diegene seermaak wat sy seun te na kom. Hy is in die weermag en weet hoe om vuurwapens te gebruik.”
Zwakala het met Assegaai gepraat, waarna laasgenoemde gesê het hy sal hom bel sodra hy die vermiste selfoon opspoor.
Zwakala en Kangombe is daar weg, maar het later die aand saam met Kamva teruggekeer nadat Assegaai hulle gebel het. Op die sypaadjie voor die huis het Assegaai die selfoon oorhandig. Kamva het daarmee in die voertuig geklim en gemerk dat die foon beskadig en die sim- en geheuekaart weg is.
Dit is toe dat die skoot glo afgegaan en die gewonde Assegaai na sy ma geroep het.
Die staat voer aan Zwakala het in die voertuig gespring terwyl Kangombe die ligte afgeskakel en weggejaag waarna hy die voertuig in Zwakala se motorhuis parkeer het.
Teenstrydighede geopper
Op 31 Oktober het Kangombe na bewering in ‘n eedsverklaring gejok dat hy nie tydens die voorval teenwoordig was nie.
Kol. Barney Mothlabakwe, Zwakala se bevelvoerder, het getuig dat Zwakala in die gebruik en beveiliging van vuurwapens soos R5-gewere en 9mm-pistole, handgranate, en wapentuig soos die afvuur van missiele opgelei is. Zwakala ontken laasgenoemde opleiding.
‘n Ander getuie, lt. kol Nomahlubi Mbelebele, wat op 23 Oktober die stasiebevelvoerder by die Kagisho-polisiekantoor was, het in kruisondervraging ontken dat die aanklagkantoor se hekkie of voordeur ooit gesluit was of dat niemand aan diens was nie, wat sou verhoed dat iemand soos Zwakala klagtes kon indien.
Advv. Sue-Ann Weyers-Gericke en Catherine Jansen kla aan.
Waarnemende regter Andries van Tonder lei die verhoor.





You must be logged in to post a comment.