'n Beseerde kransaasvoël
‘n Kransaasvoël wat onder ‘n kraglyn beseer was en na rehabilitasie weer vrygelaat is. Foto: Verskaf / argief

Sonder aasvoëls, die natuur se skoonmaakspan, sal die ophoping van karkasse van dooie diere beduidende openbare gesondheids- en omgewingsrisiko’s inhou, en sal siekte-oordrag onder ander spesies toeneem.

Aasvoëls se sterk maagsure kan verrotte karkasse verteer wat dikwels met onder meer miltsiekte en hondsdolheid besmet is. Is aasvoëls in die natuur afwesig, sal dié siektes en ander meer en vinniger versprei wat tot die vrekte van ander diere lei.

Omdat aasvoëls egter krities bedreig is, werk mense soos Ronelle Visagie van die Trust vir Bedreigde Wildlewe (EWT) onverpoos om dié voëls se voortbestaan en veiligheid te verseker.

LEES OOK: Mass vulture rescue in Kruger National Park: 84 saved from poisoning

Visagie was vroeg in Oktober in Van Zylsrus waar sy weer die boodskap oor die noodsaaklikheid van aasvoëls uitgedra het. Van Zylsrus-omgewing word as van die laaste veilige vestings vir aasvoëls beskou.

Ronelle Visagie van die EWT
Ronelle Visagie van die Trust vir Bedreigde Wildlewe (EWT) tydens haar onlangse besoek aan Van Zylsrus. Foto: Helena Barnard

Tydens haar besoek het Visagie die kunstenaarskring wat ‘n aasvoëlgeoglief by dié dorp skep, meer van dié voëls se bedreigings vertel. Sy het ook kennisgewingborde aan boere van die omgewing oorhandig wie se plase as aasvoëlveilig en -vriendelik bevind is en as deel van die Kalahari se aasvoëlbewaringsgebied beskou word.

LEES OOK: Aasvoël-geoglief sprei sy vlerke in die Kalahari-sand

Boere wie dié borde ontvang het, is Johnny Kotzé, Gert Delport, Gerhard Schutte, Gerhard de Bruin (Fullifeesand), Gerhard de Bruin (Leeupan), Oujaap Duvenhage, Boet Möller, Frikkie le Roux en Riaan van Zyl.

Talle faktore bedreig aasvoëls se bestaan

Gif en kraglyne is die twee grootste bedreigings vir aasvoëls. Aasvoëls word op grootskaal deur wildstropers vergiftig omdat hulle die ligging aandui waar wild gestroop word. Hulle word ook in landbougebiede vergiftig wanneer gif in karkasse geplaas word om diere soos jakkalse uit te roei. Dié uitplaas van gif is onwettig.

Kraglyne lei ook tot die skokdood van aasvoëls wanneer hulle daarteen vasvlieg of op onveilige T-strukture gaan sit. Visagie sê in sulke gevalle kan boere of gemeenskapslede die EWT kontak wat Eskom kan versoek om die strukture veilig te maak.

LEES OOK: Abseilers lined up to help ring eagle

Oop damme is ook ‘n bedreiging waarin aasvoëls kan verdrink. Dié voëls bad graag en kan in ‘n dam val en nie uitkom nie. ‘n Eenvoudige oplossing is om ‘n paal of stomp teen die kant van die dam vas te maak sodat dit saam met die watervlak op en af kan beweeg. Die aasvoël kan daarop sit en wegvlieg wanneer sy vlerke weer droog is. Damme kan ook met skadunet of sif bedek word.

Ander bedreigings is die doodmaak vir muti, windturbines, ape en bobbejane, witborskraaie wat eiers vreet, vernietiging van bome, loodvergiftiging (van loodkoeëlpunte wat in karkasse agterbly), veemedisyne, asook vuur en brande.

LEES OOK: Hanteer beseerde roofvoëls omsigtig

Visagie werk oor die Noord-Kaap heen om inligting oor roofvoëls te versamel, beseerde voëls te red en bewustheid onder boere en ander belanghebbendes te bevorder. Sy is ook by projekte betrokke om aasvoëlkuikens in neste te tel, te ring en vlerkplaatjies aan te bring. Die inligting word in navorsing gebruik.

Kontak haar by ronellev@ewt.org.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article