Die afgelope langnaweek se sterftesyfer op Suid-Afrikaanse paaie was teen druktyd nog nie bekend nie, maar volgens aanduidings lyk dit of daar ‘n afname in vergelyking met vorige jare was.
Dat voertuigbestuurders uiteindelik of opnuut die verantwoordelikheid besef wanneer hulle agter ‘n stuurwiel inskuif, sal verblydend wees. Dit sou in pas wees met die Paasnaweek se temas van geloof, liefde en ‘n nuwe begin. Want bestuurders hou nie net hul eie lewe en die van hul passassiers in hul hande nie, maar ook die van elkeen by wie hulle verbyry.
Soos altyd oor Paasnaweek, die Christenfees wat die kruisiging en opstanding van Jesus herdenk, het paaie van reisigers, toeriste en pelgrims gewemel.
In die Noord-Kaap was die roetes na die Augrabieswaterval, wat nou met ‘n groot gedreun sy skouspel lewer, sekerlik die gewildste om te volg. Volgens statistiek is wegbreek na die Natalse kuslyn, Kaapstad, Kruger Nasionale Park en Sun City, in die tyd ook gewild.
In Limpopo het ongeveer ‘n miljoen lede van die Zion Christian Church (ZCC) by Moria buite Polokwane byeengekom vir die jaarlikse pelgrimstog en onder meer kerkdienste op Paassondag.
Aangesien alle paaie na Rome lei, word ‘n internetdraai daar gemaak waar die 88-jarige pous Franciskus Maandag weens ‘n beroerte en hartversaking oorlede is.
Hy het nog die vorige dag, op Paassondag, ‘n boodskap by die St. Petersplein in die Vatikaanstad aan toeriste en pelgrims gelewer. Noemenswaardige inligting vir ‘n reisiger is dat die Vatikaan binne die stadsgebied van Rome in Italië geleë is. Dit het ‘n oppervlak van 49ha, ‘n bevolking van ongeveer 882 (in 2024), met Latyn as ampstaal, en is die kleinste soewereine staat ter wêreld.
As ‘n wêrelderfenisgebied besoek nagenoeg vier miljoen mense jaarliks die Vatikaanse museums wat onder meer van die voorste kunsversameling ter wêreld huisves. Volgens die internetreis ruk kaartjies hiervoor die beursie, veral as die bedrag na die Suid-Afrikaanse geldeenheid omgeskakel word.
Tog, in Rome doen jy wat in Rome gedoen word en jy dok op. By die huis doen jy soos wat by die huis gedoen word: Jy skakel die rekenaar af en geniet salige stilte om jou.
Want ‘n groot hoeveelheid van die daaglikse geraasmakers om jou is by Augrabies, dalk by Moria, of selfs die Vatikaanstad.


