Langnaweke vra mos vir ‘n uitstappie, en eindelik is die dag hier: Die Rooygesin plus vriende gaan Jozi-dieretuin toe. Vyf kinders, vier grootmense, drie pakkies pleisters en ‘n paar klamlappies – vir ingeval.

Om die verrassing te hou, is die enigste antwoord op vrae: “Dis ‘n geheim.”

Gelukkig speel die weer en verkeer saam, al is die ingangsry langer as ‘n seekoei se middagslapie. Eerste stop: Fotokraampie.

Gelukkig dra Rooypa nie ‘n lemmetjiegroen hemp nie – anders sou hy soos ‘n kamoeflerende verkleurmannetjie verdwyn het. Toe die foto’s ontwikkel, sien hulle: Op die sjabloon van die Johannesburg-dieretuin hou ‘n gorilla Rooypa se been vas – amper soos ‘n spookhand.

Die Besige Vyf skiet weg na die eerste hokke. Die diere? Min gepla. Sommige kyk vlugtig, ander knip skaars ‘n oog. Behalwe die ape. Die ouers lag: Die primate herken seker hul eie familie. Party hokke is leeg – hoe lank soek ‘n mens na ‘n dier voordat jy besef daar is net ‘n boomstomp? Die gorilla-afdeling is so ‘n geval, maar jy kan darem jou lengte teen ‘n silhoeët van ‘n reuse-aap meet.

Die Amasone-gebou bied meer aksie: slange, paddas en spinnekoppe – alles veilig agter glas. En die vistonnel: ‘n Oomblik is die kinders sprakeloos (iets wat skaars voorkom). Hulle staar grootoog en vat selfs ‘n kans halfpad die tonnel in. Die ouers ook, maar uit verbasing oor die kinders se stomheid.

Ná 10 000 treë, ‘n R5-wedstryd oor wie eerste ‘n wolf sien en dosyne strikvrae, is dit tyd vir die pretpark. ‘n Laaste energie-uitbarsting.

Vroegaand is die Rooymiere moeg, maar net voor slaaptyd vra hulle: “Wanneer gaan ons weer? Dan moet ons die museum ook besoek!” Die Rooyouers sug diep.

Eers oor ‘n paar jaar, hoop hulle stilweg agter ‘n glimlag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article