Rooyma het vir ‘n ystervrou-dogter gebid. Die probleem is: Karakter word gevorm deur tyd en moeite. Sussie se slyp van sterkvrou-tande begin in haar ouerhuis, en die Rooyspan weet presies waar hulle met haar staan.
Soms laat sy haar stem op ‘n hoë noot geld as sy soos Sneeuwitjie jodel. Kom jy haar, volgens haar, te na, laat sy van haar hoor. Ook wanneer sy val – of behoede die vierpotiges as sy reken ‘n hond tree oneties teenoor ‘n ander op.
Ander kere is dit haar stilte wat die hardste praat, want dan is sy waarskynlik met kattekwaad besig – in die vorm van haar vasberadenheid om haar hare te “trim” of klere vir die Yorkie te probeer aantrek.
Die ergste stilte is wanneer sy reken iets moet reggepak word, want die gevolg eis meer inspanning as ‘n skattejag na Paaseiers in ‘n botaniese tuin. Die hondetandepasta is na agter die seep in die badkamerkas verskuif, want dit “maak skoon”.
Hierdie “insig” is egter eers gedeel nadat Rooyma die laai waar dit was drie keer deursoek het, in Rooypa se goed geloer het, en meer as een keer gedink het sy het haar varkies verloor.
Sy het selfs al begin skietgebedjies opstuur. Sussie hou vol sy sou dit nie skuif nie, hoewel haar aandrang tot herorganisasie van die pastorie haar onder verdenking plaas. Eindelik wend Rooyma haar tot Google en wys Sussie ‘n prentjie van die tandepasta. Dadelik beantwoord Sussie haar ma se gebede en baan die weg na die badkamerkas.
“Moet asseblief nie my goed skuif sonder om met my te praat nie,” smeek Rooyma.
Rooypa skiet sy wenkbroue hemelwaarts met ‘n pot-calling-the-kettle-black-kyk. Nou wonder Rooyma heimlik of Rooypa nie dalk ook gebid het vir ‘n vrou wat wil organiseer, dink sy is altyd reg – een met ‘n ystersterke wil nie?
Aanvanklik het Rooyma gebid dat Jongste in Margaret Thatcher se voetspore sou volg, maar sy begin ál meer dink ystervroue is dalk nader as wat sy eens geglo het.
- Lees nog rubrieke hier.



