‘n Kommandowurm-plaag is in drie distrikte van die Noord-Kaap bevestig.
Die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming het dié plaag op Vrydag 28 Maart bevestig na aanleiding van verslae van boere in die ZF Mgcawu-, Pixley Ka Seme- en Francis Baard-distrik.
Kommandowurms kan ernstige skade aan gras vir weiding aanrig, asook aan landbougewasse soos mielies, sorghum, koring, grondboontjies en sonneblomme. Omdat die wurms hoofsaaklik op blare voed, lei hul teenwoordigheid tot aansienlike oesverlieste.
In sy jong stadium is die kommandowurm grysgroen met wit-geel strepe wat langs sy rug af strek, terwyl die wurm in die laat stadium swart is met ‘n blou lyn tussen die geel en swart lyne.
LUR Mase Manopole sê die departement sal saam met landboubelanghebbendes werk om suksesvolle bekamping van hierdie plaag te verseker deur behoorlike chemikalieë te verskaf.
Sy erken die beduidende invloed wat die uitbreking van die plaag op boerderye en voedselproduksie in die provinsie het.
Die LUR doen ‘n beroep op alle boere en landbou-betrokkenes om die teenwoordigheid van kommandowurms by plaaslike landbouvoorligtingsbeamptes vir onmiddellike optrede aan te meld.
Volgens aanlyn bronne is die kommandowurm ‘n besonder skadelike plaag wat in staat is om gesaaides in ‘n kwessie van weke uit te wis. Die wurm, wat die larwe van ‘n Lepidoptera-motsoort is, voed op alle soorte grasse en graansoorte.
Omdat die wurms in groot getalle vanuit grasveld na gesaaides “marsjeer”, word dit kommandowurms genoem.
Hulle neig om in die reënseisoen in baie hoë digthede voor te kom.






You must be logged in to post a comment.