Credit: Pixabay

Iemand vertel onlangs vir ons van ‘n voertuig by ‘n plaaslike motorhandelaar waarin hulle belanggestel het.

Ongelukkig het die voertuig baie kilometers afgelê en het hulle besluit om dieselfde model voertuig by ‘n motorhandelaar in ‘n ander provinsie te koop.

Alles het goed verloop – totdat hulle kleinighede gedoen moes laat kry, soos om nommerplate op te sit. Die plaaslike motorhandelaar was nie behulpsaam nie. Die personeel het geen geheim daarvan gemaak dat hulle nie bereid was om te help nie.

Ek het gewonder of die eienaar van die onderneming weet hoeveel skade daar aangerig kan word. As ek luister na hoe sleg die ondervinding vir die mense by hierdie motorhandelaar was, sal hulle geensins enige moontlike toekomstige kliënte verwys nie.

Inteendeel, hulle sal eerlik vertel van die slegte kliëntediens wat hulle gekry het. Ons dogter en haar verloofde het vroegtydig gereël om een Saterdag laatmiddag hul verlowingsfoto’s te laat neem. Iewers in die buitelug teen die asemrowende sonsondergange wat die Noord-Kaap oplewer.

Daardie einste Saterdagmiddag het dit wyd begin reën. In ‘n groot radius was daar geen droë plek om hierdie beplanning te laat realiseer nie. Ek het ‘n vriendin met ‘n pragtige huis gekontak.

“Ons huis lyk soos ‘n bouperseel,” het sy geantwoord en vir my kontaknommers van twee gastehuise gestuur. Ek het die eerste gastehuis gekontak. Die bestuurder het hulle met ope arms ontvang. Hy het geduldig gewag toe die fotosessie langer as beplan aangehou het.

“As enige iemand ooit blyplek in ‘n gastehuis soek, gaan ek julle dadelik aanbeveel,” het ons dogter voor hul vertrek vir hom gesê.

Goeie kliëntediens is aan die uitsterf. Dit is amper asof mense die groter prentjie uit die oog verloor – die eerstehandse ondervinding wat mense aan moontlike toekomstige kliënte gaan oordra. Of dalk gee hulle bloot net nie om nie?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article