’n Oudleerling van die Hoërskool Upington is onlangs oorlede nadat ’n koedoe die voertuig waarin sy en haar vriend gery het, aan die passasierskant getref het.
Die 28-jarige Sue-Ann Titus het die oggend van 3 Junie in ’n hospitaal in Vredendal aan haar beserings beswyk ná die ongeluk die vorige aand op die N7-roete.
Haar vriend is ongedeerd.
Sue-Ann het in 2013 aan die Hoërskool Upington matrikuleer. Sy was die onderhoofmeisie en Matrieknooi.
Ná matriek het sy haar as ’n onderwyseres aan die Universiteit Stellenbosch (US) bekwaam, en in 2018 by die Laerskool Keidebees in Upington begin skoolhou. Die jaar daarna het sy by ’n skool vir kinders met gestremdhede in Lansdowne, Kaapstad, gewerk.
“Dit was haar droom om met sulke kinders te kon werk,” sê haar ma, Margaret Titus.
In 2021 het Sue-Ann na die Noord-Kaap teruggekeer nadat sy ’n pos by die Laerskool Aggeneys aanvaar het.
“Sy was ons familie se oogappel. ’n Sonstraalkind wat veral op geestelike gebied so baie beteken het vir haar medemens,” sê Margaret.
“Sue-Ann was baie lief vir sonneblomme, en daar sal baie daarvan op haar begrafnis wees.”
Haar begrafnisdiens is Saterdag (17/06) om 10:00 in die Verenigende Gereformeerde kerk in Davitzstraat, Upington. Die verassing sal daarna privaat plaasvind.
Sue-Ann word deur haar ma, haar pa, Tessville, en broers Dean, Elreeve, Tyrique en Elzario oorleef.





